Levitikus 4:18-27 Bybel vir Almal (ABA)

18. Dan moet hy van die bloed aan die horings van die altaar smeer, daar voor die Here in die tent. En hy moet al die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar wat voor die tent is.

19. Dan moet hy al die vet uithaal wat in die bul is en hy moet dit op die altaar verbrand.

20. Hy moet met hierdie bul doen soos met die ander bul. So moet hy versoening doen vir die mense in die vergadering, sodat die Here hulle sal vergewe.

21. Hy moet die bul uit die kamp neem en hy moet dit verbrand, soos die ander bul. Dit is die sonde-offer van die volksvergadering.

22. “Miskien is dit ’n leier wat sonde doen, wanneer hy iets doen teen een van die gebooie van sy God die Here, maar hy weet dit nie, en hy word skuldig.

23. Wanneer hy uitvind dat hy die sonde gedoen het, dan moet hy ’n gesonde bok-ram gee om ’n offer te wees.

24. Hy moet sy hand op die bok se kop sit en hy moet die bok slag op dieselfde plek waar hulle die brandoffer-dier voor die Here slag. Dit is ’n sonde-offer.

25. Die priester moet dan van die sonde-offerbok se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die brandoffer-altaar.

26. Dan moet hy al die vet van die bok op die altaar verbrand, soos die vet van die ete-offer. Die priester doen so versoening vir die sonde van die leier, en die Here sal hom vergewe.

27. “Miskien doen ’n gewone mens sonde, maar hy weet dit nie. Hy doen iets teen een van die gebooie van die Here en hy word skuldig.

Levitikus 4