Levitikus 13:33-50 Bybel vir Almal (ABA)

33. dan moet die persoon sy hare en sy baard afskeer, maar hy moenie die hare in die seerplek afskeer nie. Die priester moet die persoon dan weer sewe dae lank toesluit.

34. As die priester op die sewende dag weer na die seerplek kyk, en die seerplek het nie groter geword nie en die seerplek is nie dieper as die vel nie, dan moet die priester sê die persoon is rein. Die persoon moet sy klere was. Hy is rein.

35. Wanneer die seerplek groter word nadat die priester gesê het die persoon is rein,

36. dan moet die priester weer na hom kyk. As die seerplek groter geword het, dan moet die priester nie ook kyk of die hare geel is nie. Hy weet dan dat die persoon onrein is.

37. Maar as die priester sien die seerplek het nie groter geword nie en daar het swart hare gegroei op die seerplek, dan is dit gesond. Die persoon is rein, en die priester moet sê die persoon is rein.

38. “As daar wit vlekke op ’n persoon se vel is,

39. dan moet die priester daarna kyk. As hy sien die wit vlekke is dof, dan is dit nie ’n ernstige velsiekte nie, die persoon is rein.

40. “Wanneer ’n persoon se hare uitval en hy word kaalkop, dan is hy nog rein,

41. en as die hare op sy voorkop uitval en hy word bles, dan is hy nog rein.

42. Maar as daar op die kaal kopvel ’n seerplek is wat pienk is, dan is dit miskien melaats.

43. Die priester moet daarna kyk, en as hy sien die seerplek op die kaal kopvel is geswel en pienk soos wanneer die vel melaats is,

44. dan is die persoon melaats. Daar is ’n seerplek op sy kop, en hy is onrein. Die priester moet sê die persoon is onrein.

45. “Iemand wat melaats is, moet sy klere skeur en hy moet sy hare los laat hang. Hy moet sy snor en sy baard toe hou en hy moet skree: ‘Ek is onrein! Ek is onrein!’

46. Hy is onrein so lank soos hy die seerplek het. Hy moet alleen woon, buite die kamp.”

47. “Daar kom miskien kolle op wolklere of op linne-klere,

48. of op materiaal, of op iets wat gemaak is van vel.

49. As daardie kolle groen of rooi is, dan is dit skimmel. Die priester moet daarna kyk.

50. As die priester daarna gekyk het, dan moet hy die klere of materiaal of ding van vel sewe dae lank toesluit.

Levitikus 13