Levitikus 11:35-47 Bybel vir Almal (ABA)

4-6. Daar is ook diere wat herkou maar wat nie gesplete hoewe het nie. Julle mag hulle nie eet nie, hulle is onrein vir julle. Dit is kamele, dassies en hase.

35. As die diertjies se dooie liggame op enige iets val, dan sal dit alles onrein wees. As dit op ’n oond of op ’n kookplek val, dan moet julle die oond of kookplek stukkend slaan. Dit is onrein en dit sal vir julle onrein bly.

36. As ’n dooie diertjie in ’n fontein of ’n watergat val en iemand raak aan die dooie diertjie, dan sal die persoon onrein wees, maar die water sal rein wees.

37. As ’n dooie diertjie op saad val wat iemand wil saai, dan bly die saad rein.

38. Maar as iemand water op die saad gooi en ’n dooie diertjie val daarop, dan sal die saad onrein wees vir julle.

39. “As een van die diere wat julle mag eet, doodgaan, en iemand raak miskien aan die dooie dier, dan sal hy onrein wees tot die aand.

40. Mense wat vleis van die dooie dier eet of wat die dooie dier optel, moet hulle klere was en hulle sal onrein wees tot die aand.

41. “Julle mag nie raak aan die baie klein diertjies op die grond nie, julle mag hulle nie eet nie.

42. Julle mag nie raak aan die diertjies wat op hulle pens seil of wat op pote loop of wat baie pote het nie. Julle mag nie raak aan een van al hierdie baie diertjies nie, julle mag hulle nie eet nie.

43. Julle mag nie aan een van die diertjies raak nie, want dan sal julle onrein word, en dan mag niemand anders aan julle raak nie.

44. Ja, Ek is julle God die Here. Julle moet julleself aan My wy en julle moet gewyd wees, want Ek is heilig. Nie een van die baie klein diertjies op die grond mag vir julle onrein laat word nie.

45. Ja, Ek is die Here wat vir julle uit die land Egipte gebring het om vir julle ’n God te wees. Julle moet aan My gewy wees, want Ek is heilig.

46. Dit is die wette oor diere en voëls en oor alles wat in die water lewe en oor al die baie klein diertjies op die grond.

47. Julle moet weet watter dinge is rein en watter dinge is onrein. Julle moet ook weet watter diere mag julle eet en watter diere mag julle nie eet nie. Almal is nie dieselfde nie.”

Levitikus 11