40. My Vader wil hê elkeen wat My sien en wat glo in My, die Seun, moet die ewige lewe kry. Ek sal hulle almal op die laaste dag weer laat lewe.”
41. Die Jode was baie ontevrede en hulle het oor Jesus begin kla. Hulle het nie daarvan gehou dat Jesus gesê het Hy is die brood wat uit die hemel kom nie.
42. Die Jode het vir mekaar gesê: “Jesus is die seun van Josef, ons ken sy pa en sy ma. Hy kan nie sê dat hy uit die hemel kom nie.”
43. Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet ophou kla.
44. My Vader het My na die wêreld gestuur. As die Vader iemand nie trek nie, dan kan daardie persoon nie na My toe kom nie, en Ek sal hom op die laaste dag weer laat lewe.
45. Een van die profete in die Ou Testament het geskryf:“Hulle sal almalGod se leerlinge wees.“Dit beteken dat elkeen wat na die Vader luister en wat by Hom leer, na My toe kom.
46. Dit beteken nie dat iemand anders ook die Vader gesien het nie. Net Ek het die Vader gesien, Ek wat van God kom.
47. Ek sê vir julle, en dit is seker: Elkeen wat in My glo, sal altyd lewe.
48. Ek is die brood wat die ewige lewe gee.
49. Julle voorvaders het manna geëet in die woestyn, maar hulle het later gesterf.
50. Maar die brood wat uit die hemel kom, is anders. Elkeen wat van hierdie brood eet, sal nooit sterf nie.
51. Ek is die brood wat self lewe en wat ook lewe gee. Ek kom uit die hemel. As iemand van hierdie brood eet, dan sal hy altyd lewe. Die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense van die wêreld altyd kan lewe.”
52. Die Jode het toe baie met mekaar gestry en gesê: “Hoe kan Jesus vir ons sy liggaam gee om te eet?”
53. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun van die mens. As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, dan sal julle nie altyd lewe nie.
54. Iemand wat my liggaam eet en my bloed drink, sal altyd lewe. Ek sal hom op die laaste dag weer laat lewe.