Johannes 19:13-19 Bybel vir Almal (ABA)

13. Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy vir Jesus buitetoe laat bring. Pilatus het op die regterstoel gaan sit. Die plek waar die regterstoel gestaan het, se naam was die Klipstoep. Die Hebreeuse naam van die plek is Gabbata.

14. Dit was die dag voor die Paasfees, die dag waarop die Jode alles gereedgemaak het vir die Paasfees. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk, hier is julle koning!”

15. Hulle het hard geskree: “Jy moet vir Jesus wegvat! Jy moet hom wegvat! Jy moet hom laat kruisig!”Pilatus het vir hulle gevra: “Moet ek vir Jesus, julle koning, laat kruisig?”Die priesterleiers het vir Pilatus gesê: “Jesus is nie ons koning nie! Ons het net een koning, en dit is die keiser!”

16. Toe het Pilatus gesê die priesterleiers mag vir Jesus vat en Hom laat kruisig.Die soldate het vir Jesus weggevat om Hom te kruisig.

17. Jesus het self sy kruis gedra en Hy het uit die stad gegaan, na die Kopbeenplek. Die Hebreeuse naam van die plek is Golgota.

18. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het twee ander mans saam met Hom gekruisig, een links langs Jesus en een regs langs Hom.

19. Pilatus het op ’n plank bo-aan die kruis laat skryf: “Hier hang Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.”

Johannes 19