Johannes 12:34-50 Bybel vir Almal (ABA)

34. Die mense het vir Jesus gesê: “Ons het in die Ou Testament gelees dat die Christus vir altyd op die aarde sal bly, maar jy sê die Seun van die mens sal hoog bo die grond wees. Wie is die Seun van die mens? Van wie praat jy?”

35. Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die Lig. Die Lig sal nog net ’n kort tydjie by julle wees. Wanneer dit lig is, moet julle aanhou werk. Dan, wanneer dit donker word, sal julle nie skrik nie. Wanneer ’n mens in die donker werk, weet hy nie wat hy doen nie.

36. Ek is die Lig en Ek is nou hier by julle. Julle moet in My glo, dan sal julle kinders van die lig wees.”Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy weggegaan, en hulle kon Hom nie kry nie.

37. Die mense het baie wondertekens gesien wat Jesus gedoen het, maar hulle het nie in Jesus geglo nie.

38. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het: Here, niemand het geluisterna wat ons sê nie,niemand het besef hoe sterkdie Here is nie.

39. Jesaja het ook gesê hoekom hulle nie kon glo nie.

40. Hy het gesê: God het die mense se oëblind gemaak,Hy het hulle harte hard gemaak.Daarom kon hulle oë nie sien nie,en hulle harte kon nie verstaan nie,en hulle het nie begin lewesoos God wil hê nie.Daarom sal Ek hulle niegesond maak nie, sê God.

41. Jesaja het dit alles gesê, want hy het gesien Jesus is God. Hy het van Jesus gepraat.

42. Baie mense het in Jesus geglo, ook party van die leiers, maar hulle het dit vir niemand vertel nie. Hulle was bang dat die Fariseërs sal sê hulle mag nooit weer in die sinagoge kom nie.

43. Daardie leiers wou meer belangrik wees vir mense as vir God.

44. Jesus het hard gesê: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, hy glo ook in God wat My na die wêreld gestuur het.

45. Ja, as iemand My sien, dan sien hy ook vir God wat My na die wêreld gestuur het.

46. Ek het gekom om ’n lig vir die mense van die wêreld te wees. Daarom sal elkeen wat in My glo, nie meer in die donker lewe nie.

47. Ek het nie gekom om die mense van die wêreld te oordeel nie. Ek het gekom om hulle te red. Daarom, wanneer mense hoor wat Ek sê, maar hulle doen nie wat Ek sê nie, sal Ék hulle nie oordeel nie,

48. die woorde wat Ek gesê het, sal hulle oordeel op die laaste dag. Hulle glo nie in My nie en hulle luister nie na wat Ek sê nie.

49. Die dinge wat Ek gesê het, kom nie van My nie. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, het vir My gesê presies wat Ek moet sê.

50. Ek weet die dinge wat die Vader vir My gesê het om te doen, laat mense vir altyd lewe. Daarom sê Ek wat die Vader vir My gesê het.”

Johannes 12