28. Nadat Marta dit gesê het, het sy teruggegaan huis toe. Sy het haar suster Maria geroep en saggies vir haar gesê: “Die Rabbi is hier. Hy roep jou.”
29. Toe Maria dit hoor, het sy vinnig opgestaan en na Jesus toe gegaan.
30. Jesus het nog nie in die stad ingegaan nie. Hy was nog daar waar Marta met Hom gepraat het.
31. Daar was Jode saam met Maria in die huis. Hulle het gekom om haar te troos. Hulle het gesien Maria staan vinnig op en gaan buitetoe. Hulle het gedink sy gaan na Lasarus se graf om daar te gaan huil. Daarom het hulle saam met haar gegaan.
32. Maria het by die plek gekom waar Jesus gestaan het en sy het voor Hom gekniel. Sy het vir Hom gesê: “Here, as U hier was toe my broer siek was, dan het my broer nie gesterf nie.”
33. Jesus het gesien Maria huil. Hy het gesien die Jode wat saam met haar gekom het, huil ook. Toe was Jesus baie hartseer en ontsteld.
34. Hy het gevra: “Waar het julle vir Lasarus begrawe?”Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk, ons sal vir U gaan wys.”
35. Jesus het gehuil.
36. Die Jode het gesê: “Kyk, Jesus huil, hy was baie lief vir Lasarus.”
37. Party Jode het gesê: “Jesus het die blinde man laat sien. Hoekom het hy vir Lasarus laat sterf?”
38. Toe Jesus by die graf kom, het Hy weer baie hartseer geword. Die graf was ’n grot en daar was ’n klip voor die ingang.
39. Jesus het gesê hulle moet die klip wegrol. Marta, die suster van Lasarus, het vir Jesus gesê: “Nee, Here, ons kan dit nie doen nie. Lasarus is vier dae in die graf en dit sal sleg ruik.”
40. Jesus het vir haar gesê: “Ek het vir jou gesê jy moet glo, dan sal jy sien God sal wys dat Hy God is.”
41. Die Jode het die klip weggerol. Jesus het na die hemel gekyk en gesê: “Vader, dankie dat U my gebed hoor.
42. Ek sê dit sodat die mense wat hier rondom My staan, kan glo dat U My na die wêreld gestuur het. Ek weet U luister altyd na my gebed.”