18. Maar toe het ons opgehou om offers te bring vir die koningin van die hemel en ons het opgehou om vir haar drank-offers uit te gooi. Van toe af het ons min kos gehad, en toe het ons begin sterf in oorlog en van honger.”
19. Die vroue het gesê: “Ons mans het geweet ons bring offers vir die koningin van die hemel en ons gooi vir haar drank-offers uit. Hulle het geweet ons maak offer-koekies wat lyk soos die koningin van die hemel en ons gooi vir haar drank-offers uit.”
20. Jeremia het gepraat met al die mense wat dit vir hom gesê het, met die mans en met die vroue. Hy het vir hulle gesê:
21. “Die Here het gesien en Hy was baie hartseer oor die offers wat julle gebring het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, julle en julle konings en julle amptenare en al die mense van die land.
22. Die Here het ongeduldig geword omdat julle hierdie slegte dinge doen, dinge wat Hy haat, en daarom het julle land ’n hoop klippe geword waar niemand woon nie. Dit is iets wat mense noem wanneer hulle ander mense wil bangmaak of vervloek.
23. Julle het sonde gedoen teen die Here toe julle daardie offers gebring het. Julle het nie gedoen wat Hy vir julle in sy wette gesê het nie. Daarom gaan dit nou so sleg met julle.”
24. Jeremia het vir al die Judeërs gesê, ook vir die vroue: “Judeërs, julle almal wat in die land Egipte is, julle moet hoor wat die Here sê:
25. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Wat julle monde sê, dit doen julle hande. Julle sê julle sal doen wat julle belowe het, en julle sal vir die koningin van die hemel offers bring en drank-offers uitgooi, dit is seker. Nou moet julle doen wat julle belowe het.
26. Maar julle moet hoor wat sê die Here vir al die Judeërs wat in die land Egipte woon. Die Here sê: So seker soos Ek lewe, niemand van die Judeërs in die hele land Egipte sal weer my groot Naam kan noem wanneer hy iets wil belowe nie.
27. Ek is nou gereed om hulle te straf, nie om goed te doen aan hulle nie. Elke Judeër in die land Egipte sal sterf in oorlog of van honger, almal sal sterf.
28. Die Judeërs wat nie in die oorlog sterf nie en wat terugkom na die land Juda, sal min wees. Almal wat oorgebly het en wat na Egipte gekom het om hier vreemdelinge te wees, sal dan weet wie het die waarheid gepraat, Ek of hulle.“Die Here sê:
29. Ek sal julle straf op hierdie plek, sodat julle kan weet dat Ek met julle sal doen wat Ek sê, dit is seker. Ek gee vir julle hierdie teken:
30. Ek sal nie die farao Gofra, die koning van Egipte, help nie. Hy sal die oorlog verloor teen sy vyande wat hom wil doodmaak, soos Ek ook nie vir koning Sedekia van Juda gehelp het nie, hy het ook die oorlog verloor teen koning Nebukadnesar van Babel, sy vyand wat hom wou doodmaak.”