Jeremia 44:12-23 Bybel vir Almal (ABA)

12. Die Judeërs wat oorgebly het, sal almal sterf in Egipte, almal wat besluit het om na Egipte te gaan en daar vreemdelinge te wees. Vyande sal hulle doodmaak en hulle sal sterf van honger. Vyande sal almal doodmaak, onbelangrike en belangrike mense, en hulle sal sterf van honger. Mense sal hulle name gebruik om ander mense te vervloek en bang te maak en te beledig en te spot.

13. Ek sal die Judeërs wat in Egipte woon, straf soos Ek die mense van Jerusalem gestraf het. Hulle sal sterf in oorlog en van honger en van pes.

14. Nie een van hierdie Judeërs wat oorgebly het en wat in Egipte vreemdelinge wil wees, sal aanhou lewe nie. Hulle sal later wil teruggaan na die land Juda om daar te woon, maar hulle sal nie kan terugkom nie. Daar sal min van hulle oorbly wat lewe.”

15. Daar was mans wat geweet het dat hulle vroue wierook-offers bring vir ander gode. Hulle en al die vroue wat in die groot volksvergadering gestaan het, almal wat in Egipte en die land Patros gewoon het, het vir Jeremia gesê:

16. “Jy sê die Here het jou gestuur om hierdie dinge vir ons te sê, maar ons sal nie luister na jou nie.

17. Ja, ons sal aanhou om te doen wat ons gesê het. Ons sal vir die koningin van die hemel offers bring en ons sal vir haar drank-offers uitgooi soos ons en ons voorvaders en ons konings en ons amptenare altyd gedoen het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem. Daardie tyd het ons genoeg gehad om te eet, en dit het goed gegaan met ons, nie sleg nie.

18. Maar toe het ons opgehou om offers te bring vir die koningin van die hemel en ons het opgehou om vir haar drank-offers uit te gooi. Van toe af het ons min kos gehad, en toe het ons begin sterf in oorlog en van honger.”

19. Die vroue het gesê: “Ons mans het geweet ons bring offers vir die koningin van die hemel en ons gooi vir haar drank-offers uit. Hulle het geweet ons maak offer-koekies wat lyk soos die koningin van die hemel en ons gooi vir haar drank-offers uit.”

20. Jeremia het gepraat met al die mense wat dit vir hom gesê het, met die mans en met die vroue. Hy het vir hulle gesê:

21. “Die Here het gesien en Hy was baie hartseer oor die offers wat julle gebring het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, julle en julle konings en julle amptenare en al die mense van die land.

22. Die Here het ongeduldig geword omdat julle hierdie slegte dinge doen, dinge wat Hy haat, en daarom het julle land ’n hoop klippe geword waar niemand woon nie. Dit is iets wat mense noem wanneer hulle ander mense wil bangmaak of vervloek.

23. Julle het sonde gedoen teen die Here toe julle daardie offers gebring het. Julle het nie gedoen wat Hy vir julle in sy wette gesê het nie. Daarom gaan dit nou so sleg met julle.”

Jeremia 44