Jeremia 38:13-23 Bybel vir Almal (ABA)

13. Jeremia het dit gedoen, en hulle het hom met die toue uit die put opgetrek. Hy het in die binneplaas van die wagte gebly.

14. Koning Sedekia het die profeet Jeremia laat haal om na hom toe te kom. Die koning was in die derde ingang na die tempel. Hy het vir Jeremia gesê: “Ek wil vir jou iets vra, en jy moet alles vir my vertel.”

15. Jeremia het vir Sedekia gesê: “As ek alles vir jou vertel, dan sal jy my doodmaak, dit is seker. En as ek vir jou sê wat om te doen, dan sal jy nie na my luister nie.”

16. Koning Sedekia het met Jeremia gepraat waar niemand anders dit kon hoor nie, en hy het vir Jeremia belowe: “So seker soos die Here lewe wat vir ons die lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie, en ek sal jou nie vir die manne gee wat jou wil doodmaak nie.”

17. Toe sê Jeremia vir Sedekia: “Die Here, die God wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: As jy uitgaan na die amptenare van die koning van Babel, dan sal jy aanhou lewe en dan sal hulle nie hierdie stad verbrand nie. Jy en jou huisgesin sal aanhou lewe.

18. Maar as jy nie uitgaan na die amptenare van die koning van Babel nie, dan sal Ek hierdie stad vir die Galdeërs gee, en hulle sal dit verbrand. En jy sal nie kan wegvlug van hulle nie.”

19. Koning Sedekia het vir Jeremia gesê: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs weggeloop het om saam met hulle te veg. Die Galdeërs sal my vir daardie Judeërs gee, en hulle sal my aanval en seermaak.”

20. Jeremia het gesê: “Die Galdeërs sal jou nie vir daardie mense gee nie. Koning Sedekia, jy moet asseblief luister en doen wat die Here sê. Dan sal dit goed gaan met jou en jy sal aanhou lewe.

21. Maar die Here het vir my gewys wat sal gebeur as jy nie wil uitgaan nie:

22. Al die vroue wat oorgebly het in die paleis van die koning van Juda, sal uitgaan na die amptenare van die koning van Babel en hulle sal sê:“ ‘Jou vriende het jou bedrieg,hulle het jou verkeerd laat besluit,nou sal jou voete wegsak in die modder,en jou vriende het gevlug.’

23. “Al jou vroue en jou seuns sal moet uitgaan na die Galdeërs toe, en jy sal ook nie vry kan wegkom nie. Ja, hulle sal jou vang en vir die koning van Babel gee, en hulle sal hierdie stad verbrand.”

Jeremia 38