Hebreërs 11:13-25 Bybel vir Almal (ABA)

13. Al hierdie mense wat in God geglo het, het gesterf, en hulle het nie gekry wat God vir hulle belowe het nie. Maar lank voordat hierdie dinge sou gebeur, het hulle dit gesien en hulle was bly oor hierdie dinge. Hulle was nie bang om te sê dat hulle vreemdelinge is in hierdie wêreld nie, hulle was mense wat nie altyd hier woon nie.

14. Want mense wat sê dat hulle hier net vreemdelinge is, sê baie duidelik dat hulle nog nie ’n land het waar hulle altyd kan woon nie.

15. Want as dit waar is dat hulle aangehou het om te dink aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, dan sou hulle kon teruggaan daarnatoe.

16. Maar hulle het nie aangehou om te dink aan daardie land nie. Nee, hulle het verlang na ’n beter land, dit is by God in die hemel. Daarom is God nie skaam dat hulle kon sê dat Hy hulle God is nie. Daarom het Hy vir hulle ’n stad gereedgemaak om in te woon.

17. God het vir Abraham ’n nageslag belowe, maar God wou vir Abraham toets. Hy wou kyk wat Abraham sal doen en Hy het gesê Abraham moet sy seun offer. Abraham het in God geglo. Daarom was Abraham gewillig om vir Isak te offer en het hy begin om sy enigste seun te offer.

18. God het van Abraham se seun gesê: “Die nageslag van Isak sal jou nageslag wees.”

19. Abraham het gedink dat God mense wat dood is, weer kan laat lewe, en daarom het hy vir Isak teruggekry. Dit is ’n voorbeeld wat wys hoe God mense wat dood is, weer sal laat lewe.

20. Isak het in God geglo, en daarom het Isak vir Jakob en Esau geseën, Isak het hulle geseën ook oor dinge wat nog later sal gebeur.

21. Jakob het in God geglo, en daarom het Jakob altwee die seuns van Josef geseën en het hy God aanbid terwyl hy oor die knop van sy kierie gebuig het. Jakob het dit gedoen terwyl hy besig was om te sterf.

22. Josef het in God geglo, en daarom het Josef daaroor gepraat dat die nageslag van Israel sal terugkom uit Egipte na hulle land. Hy het dit gesê kort voordat hy gesterf het, en hy het ook gesê wat hulle ná sy dood met sy liggaam moet doen.

23. Moses se ouers het in God geglo, en daarom het hulle vir Moses drie maande lank weggesteek nadat hy gebore is. Hulle het dit gedoen omdat hulle gesien het die kind is baie mooi, en hulle was nie bang vir wat die koning gesê het nie.

24. Moses het groot geword en hy het in God geglo. Daarom wou hy nie hê dat mense hom die seun van die farao se dogter moet noem nie.

25. Nee, Moses het gekies om saam met die volk van God swaar te kry, hy het nie gekies om vir ’n kort tydjie die sonde te geniet nie.

Hebreërs 11