11. Hierdie Jode was anders as die Jode in Tessalonika, hulle wou graag leer en hulle het baie graag geluister na wat Paulus en sy vriende vertel het. Hulle het elke dag die Ou Testament baie goed gelees om te kyk of die dinge waar is wat Paulus en sy vriende vertel het.
12. Baie van die Jode en van die belangrike Griekse vroue en mans het in die Here Jesus begin glo.
13. Maar toe die Jode van die stad Tessalonika hoor dat Paulus ook in die stad Berea vir die mense die boodskap van God gebring het, het hulle ook daarnatoe gekom en hulle het baie mense opstandig en kwaad gemaak.
14. Die gelowiges het toe dadelik vir Paulus weggestuur na die see toe, maar Silas en Timoteus het altwee in Berea gebly.
15. Die mense wat saam met Paulus gegaan het, het hom na die stad Atene gebring. Paulus het vir hulle gesê dat hulle vir Silas en Timoteus moet gaan sê om dadelik na hom toe te kom. Hulle het toe van daar teruggegaan na Berea.
16. Terwyl Paulus in die stad Atene vir Silas en Timoteus gewag het, het Paulus baie kwaad en ontsteld geword toe hy sien dat die stad vol beelde van afgode was.
17. Paulus het in die sinagoge gepraat met die Jode en die Grieke wat vir God respekteer. Hy het ook elke dag op die mark met almal gepraat wat daar gekom het.
18. Party filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met Paulus gestry. Party van hulle het gesê: “Hierdie man is ’n grootmond, hy spog baie. Wat wil hy vir ons leer?”Ander mense het gesê: “Ons dink hy is ’n boodskapper van gode wat ons nie ken nie.”Hulle het dit gesê omdat Paulus vir die mense vertel het van die goeie boodskap van Jesus en dat God mense weer sal laat lewe.
19. Hulle het toe vir Paulus na die vergadering op die Areopagus geneem en vir hom gesê: “Ons wil nou weet wat die nuwe dinge is wat jy vir die mense leer.
20. Want party dinge wat jy sê, het ons nog nie voorheen gehoor nie. Daarom wil ons weet wat hierdie dinge beteken.”
21. Hulle het dit gevra, want al die mense wat in die stad Atene gewoon het, en ook die vreemdelinge wat daar gewoon het, het altyd baie tyd gehad om te praat oor iets wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie, of om daarna te luister.
22. Paulus het toe voor die vergadering op die Areopagus gaan staan en hy het gesê: “Mense van Atene, ek sien dat julle aanhou om julle gode te dien saam met alles wat julle in julle lewe doen.
23. Ek het deur julle stad geloop en ek het gekyk na die plekke waar julle al julle gode aanbid. Toe het ek ook ’n altaar gekry en op die altaar is daar geskryf: ‘Hierdie altaar is vir die god wat ons nie ken nie.’ Ek wil vir julle vertel van hierdie God, julle ken Hom nie, maar julle aanbid Hom.
24. Hierdie God het die wêreld gemaak en ook alles wat daarin is. Hý is die Here van die hemel en die aarde, en Hy woon nie in tempels wat mense gemaak het nie.
25. Mense moenie vir hierdie God sorg nie, dit is nie nodig nie. Hy is die Een wat vir al die mense lewe gee, Hy laat hulle asemhaal, en Hy gee alles vir hulle.