Handelinge 10:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. Petrus het gesien dat die hemel oop is en dat iets soos ’n groot stuk lap afkom uit die hemel. Dit het gelyk of iemand die lap vashou aan die vier hoeke en of hy die lap tot op die grond laat sak.

12. In die groot stuk lap was van al die soorte diere: diere wat vier pote het, diere wat op die aarde kruip en voëls.

13. Petrus hoor toe dat Iemand vir hom sê: “Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.”

14. Maar Petrus het gesê: “Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is nie, of iets wat onrein is nie.”

15. Maar die Persoon het die tweede maal vir hom gesê: “God het hierdie diere rein gemaak. Jy moenie sê dit is onrein nie.”

16. Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap opgetrek in die hemel in.

17. Petrus het gewonder wat die dinge beteken wat hy gesien het. Die mans wat van Kornelius gekom het, het vir mense gevra waar Simon se huis is. Terwyl Petrus oor alles gewonder het, het hulle by die voordeur van die huis gestaan.

18. Hulle roep toe en vra of Simon daar woon. Simon se ander naam was Petrus.

19. Terwyl Petrus gedink het oor die dinge wat hy gesien het, het die Heilige Gees vir hom gesê: “Daar is drie mans wat jou soek.

20. Jy moet nou opstaan en afgaan na hulle toe. En jy moet saam met hulle gaan, jy moenie twyfel nie, want Ék het hulle gestuur.”

21. Petrus klim toe af van die dak en hy gaan na die mans toe en vra vir hulle: “Julle soek my, hier is ek. Hoekom is julle hier?”

22. Toe antwoord hulle hom: “Die offisier Kornelius is ’n regverdige man, hy respekteer vir God, en die hele Joodse volk sê goeie dinge van hom. ’n Heilige engel het vir Kornelius gesê hy moet vir jou sê om na sy huis te kom sodat hy kan luister na wat jy sê.”

Handelinge 10