Genesis 24:55-67 Bybel vir Almal (ABA)

55. Maar Rebekka se broer en haar ma het gesê: “Jy moet asseblief ons dogter nog tien dae by ons laat bly, dan mag jy gaan.”

56. Die slaaf sê toe vir hulle: “Julle moet my nie terughou nie. Die Here het my gehelp om reg te kry wat ek moes doen. Julle moet my laat gaan, sodat ek kan teruggaan na my eienaar toe.”

57. Hulle het gesê: “Kom ons roep die dogter en vra vir haar.”

58. Hulle roep toe vir Rebekka en vra vir haar: “Wil jy nou dadelik saamgaan met hierdie man?”En sy antwoord: “Ja, ek wil gaan.”

59. Hulle het Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, laat saamgaan met Abraham se slaaf en die ander mans.

60. Hulle het Rebekka gegroet en vir haar gesê:“Ons suster, ons bid dat die Herejou sal seën,sodat jou nageslagbaie duisende sal wees,sodat hulle ook al hulle vyandese stede sal oorwin.”

61. Rebekka en haar slavinne het toe gereedgemaak. Hulle het op die kamele geklim en saam met die man gegaan. So het die slaaf dit reggekry dat Rebekka met hom saamgegaan het.

62. Isak het in die Suid-land gewoon. Hy het van Lagai-Roï-fontein gekom

63. en hy het die middag laat in die veld gaan stap. Hy het kamele gesien aankom.

64. Toe Rebekka vir Isak sien, het sy van die kameel afgeklim

65. en vir die slaaf gevra: “Wie is daardie man wat in die veld na ons toe aankom?”Die slaaf het gesê: “Dit is my eienaar.”Rebekka het toe haar gesig toegemaak met ’n sluier.

66. Die slaaf het vir Isak alles vertel wat hy gedoen het.

67. Isak het vir Rebekka na sy ma Sara se tent gebring. Hy het met Rebekka getrou. Hy het lief geword vir haar, en toe sy ma sterf, was Rebekka daar om by hom te wees.

Genesis 24