10. Efron het tussen die Hetiete gesit. Hy het Abraham geantwoord, en almal wat by die stad se poort ingekom het, kon hoor wat hy sê. Hy het gesê:
11. “Nee, Meneer, luister na my. Ek gee die grond vir jou en ook die grot wat daarop is. Ek gee dit vir jou hier waar my mense dit sien. Begrawe jou vrou daar.”
12. Toe buig Abraham voor die land se mense,
13. en hy sê vir Efron sodat almal dit kan hoor: “Luister asseblief na my. Ek sal betaal vir die grond. Neem my geld sodat ek my vrou daar kan begrawe.”
14. Efron antwoord toe vir Abraham:
15. “Meneer, luister na my. Die stuk grond kos 400 sikkels silwer. Maar wat maak dit saak tussen my en jou? Begrawe jou vrou daar.”
16. Abraham het na Efron geluister. Hy het die silwer geweeg en vir Efron gegee. Dit was soveel silwer soos Efron voor die Hetiete gesê het, 400 sikkels, soos ’n handelaar dit weeg.
17. So het Efron sy grond in Makpela verkoop. Dit was die grond oorkant Mamre, die grond en die grot en al die bome daarop.
18. Dit het Abraham se grond geword. Al die Hetiete wat by die stad se poort was, het gesien dat Abraham daarvoor betaal het.
19. Daarna het Abraham sy vrou Sara begrawe in die grot op die Makpela-grond oorkant Mamre, dit is die stad Hebron, in die land Kanaän.
20. So het die grond en die grot wat voorheen aan die Hetiete behoort het, Abraham se grond geword. Abraham het dit gebruik om sy mense daar te begrawe.