Esra 7:4-18 Bybel vir Almal (ABA)

4. seun van Seragja seun van Ussi seun van Bukki

5. seun van Abisua seun van Pinehas seun van Eleasar seun van die hoëpriester Aäron.

6. Dit is die Esra wat uit die land Babel gekom het. Hy was ’n skrifgeleerde wat die Wette van Moses goed geken het, die wette wat die Here, die God van Israel, vir sy volk gegee het. Die Here het sy hand oor Esra gehou en Hy het hom geseën, daarom het die koning vir Esra alles gegee wat hy gevra het.

7. Daar het Israeliete, priesters, Leviete, mense wat gesing het, poortwagte en tempel-slawe saam met Esra na Jerusalem gegaan. Dit was in die sewende jaar nadat Artasasta koning geword het.

8. Esra het in Jerusalem gekom in die vyfde maand van die sewende jaar nadat Artasasta koning geword het.

9. Ja, Esra het die mense uit die land Babel gelei op die eerste dag van die eerste maand en hy het in Jerusalem gekom op die eerste dag van die vyfde maand. Sy God het hom beskerm,

10. want hy het altyd gevra wat die wette van die Here sê en hy het dit gedoen. Hy het ook vir die Israeliete geleer wat die Here wil hê en wat Hy besluit het.

11. Die priester Esra het die wette van die Here goed geken. Koning Artasasta het vir Esra ’n brief gegee. Die koning het geskryf:

12. Artasasta, koning van konings, aan die priester Esra, wat die wette van die God van die hemel ken:

13. Ek sê dat elke Israeliet in my land, en ook elke priester en Leviet wat na Jerusalem wil gaan, saam met jou mag gaan.

14. Ek, die koning, en my raadgewers stuur jou om in Juda en Jerusalem te gaan kyk hoe dit gaan. Jy moet kyk of die Judeërs daar lewe soos jou God se wette sê, die wette wat jy by jou het.

15. Jy moet die silwer en die goud saamneem wat ek en my raadgewers gegee het vir die God van Israel. Sy tempel is in Jerusalem.

16. Jy moet ook al die silwer en goud saamneem wat jy kan kry in die provinsie Babel, jy moet dit neem saam met die presente wat die mense en die priesters gee vir die tempel van hulle God in Jerusalem.

17. Jy moet hierdie geld gebruik om bulle, ramme en lammers te koop en ook die koring-offers en drank-offers wat daarby moet wees. Julle moet dit offer op die altaar by die tempel van julle God in Jerusalem.

18. Jy en die ander priesters mag die silwer en goud wat oorbly, gebruik soos julle dink is reg. Julle moet dit gebruik soos julle God wil hê.

Esra 7