Esegiël 46:11-23 Bybel vir Almal (ABA)

11. Op die feeste, op elke feesdag, moet die regeerder ook ’n koring-offer bring. Die koring-offer is een efa koring saam met ’n bul en een efa koring saam met ’n skaap-ram, en saam met die lammers kan hy gee soveel koring soos hy wil, maar hy moet een hin olyf-olie saam met elke efa koring gee.

12. Die regeerder kan ook ’n vrywillige offer bring. Dit kan ’n brand-offer of ’n ete-offer vir die Here wees. Hulle moet dan die oos-poort oopmaak vir hom, en hy moet sy brand-offer of sy ete-offer bring soos op die Sabbatdag. Daarna moet hy uitgaan, en hulle moet die poort sluit nadat hy uitgegaan het.

13. Die regeerder moet elke dag ’n gesonde jaaroud-lam gee om ’n brand-offer te wees. Hy moet dit elke oggend doen.

14. Saam met die brand-offer moet die regeerder elke oggend een sesde van ’n efa koring of gars gee, en een derde hin olyf-olie om die meel nat te maak. Dit is die koring-offer vir die Here, en die regeerder moet dit altyd bring.

15. Hulle moet die lam en die koring-offer en die olyf-olie elke oggend bring. Dit is die brand-offer wat hulle elke dag moet bring.”

16. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Wanneer die regeerder vir een van sy seuns ’n stuk van sy grond present gee, dan sal dit aan die seun behoort. Dit is sy grond omdat sy pa dit vir hom gegee het.

17. Maar wanneer die regeerder vir een van sy slawe ’n stuk van sy grond present gee, dan sal die grond die slaaf se grond wees net tot die jaar wanneer almal die grond moet teruggee vir die familie aan wie dit behoort het. Dan moet die slaaf die grond teruggee vir die regeerder. Net sy seuns mag die grond hou wat hy vir hulle gee.

18. Die regeerder mag nie van die volk se grond vat nie, hy mag nie hulle goed wegvat nie, hy mag net van sy eie grond vir sy seuns gee. Hy mag nie een van my volk se mense wegjaag van sy grond nie.”

19. Toe het die man vir my gebring deur die deur langs die poort, ’n mens kan daar ingaan na die gewyde kamers van die priesters by die noordekant. En daar, ver langs die westekant, sien ek toe ’n plek.

20. Die man het vir my gesê: Dit is die plek waar die priesters die vleis vir die skuld-offer en die sonde-offer moet afwas en waar hulle die brood vir die koring-offer moet bak. Hoekom? Want hulle mag nie die vleis en die brood in die buitenste oop stuk grond bring nie. Die vleis en die brood is gewyd, en dit sal vir die volk gevaarlik wees om by die vleis en die brood te kom.

21. Daarna het die man my gebring na die buitenste oop stuk grond, hy het my gebring by die vier hoeke van die oop stuk grond. Daar, in elke hoek, was ’n kleiner oop stuk grond.

22. Hierdie kleiner oop stukke grond in die hoeke was elkeen 40 el lank en 30 el breed, en daar het rook by hulle uitgekom.

23. Daar was ’n muur om elke stuk grond, en daar was kookplekke onder rondom teen die muur.

Esegiël 46