Esegiël 44:5-19 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die Here het vir my gesê: “Mens, jy moet kyk en oplet en luister na alles wat Ek vir jou sê oor alles wat julle in die tempel van die Here moet doen en hoe julle dit moet doen. Jy moet oplet waar ’n mens mag inkom en oral waar ’n mens mag uitgaan uit die gewyde plek.

6. En jy moet vir die opstandige volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Israel, julle moet ophou om al die verkeerde dinge te doen wat Ek haat.

7. Julle het mense in my gewyde plek laat kom wat nie Israeliete is nie, mense wat nie aan My behoort nie en wat nie besny is nie. Hulle het my tempel ontwy toe julle vir My vet en bloed ge-offer het om te eet. Julle het die verbond met My gebreek toe julle al die dinge gedoen het wat Ek haat.

8. Julle het nie self die werk in my gewyde plek gedoen nie, julle het daardie mense in my gewyde plek laat werk.

9. Die Here, Hy wat Here is, sê: Iemand wat nie ’n Israeliet is nie en wat nie aan My behoort nie en wat nie besny is nie, mag nie in my gewyde plek kom nie. Niemand van die mense wat tussen julle woon en wat nie Israeliete is nie, mag daar kom nie.

10. Net die Leviete kon dit doen. Maar die Leviete het ver weggegaan van My toe hulle die Israeliete verkeerd laat doen het. Die Israeliete het verkeerd gedoen en hulle het hulle afgode gedien. Daarom moet die Leviete die straf kry vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.

11. Die Leviete mag in my gewyde plek werk. Hulle mag wagstaan by die poorte van die tempel en hulle mag by die tempel werk. Dit is die Leviete wat die diere moet slag vir die brand-offers en die ander offers van die volk. Hulle mag vir die volk werk.

12. Maar die Leviete het ook vir die volk gewerk toe die volk afgode gedien het. Hulle het die volk sonde laat doen. Daarom het Ek besluit om hulle te straf. Hulle moet die straf kry vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.

13. Hulle mag nie by my altaar kom om priesters te wees vir My nie, hulle mag nie raak aan iets wat aan My gewy is en ook nie aan die hoog-gewyde dinge nie. Hulle moet weet dat Ek hulle verneder het oor die dinge wat hulle gedoen het, dinge wat Ek haat.

14. Ek maak die Leviete die werkers in my tempel. Hulle moet al die werk doen waar daar werk is in die tempel.”

15. “Maar die Levi-priesters, die nageslag van Sadok, is die priesters wat naby die altaar mag kom om vir My te werk. Hulle het die werk in my gewyde plek gedoen toe die Israeliete weggegaan het van My. Net hulle mag die werk doen om vir My vet en bloed te offer.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

16. “Dit is net húlle wat mag kom in my gewyde plek om op my altaar te offer en die werk daar vir My te doen.

17. Maar wanneer hierdie priesters deur die poorte van die binneste oop stuk grond kom, dan moet hulle linne-klere aanhê, hulle mag nie wolklere dra wanneer hulle deur die poorte van die binneste oop stuk grond gaan om by die tempel te werk nie.

18. Die priesters moet linne-kopdoeke en linne-broeke dra. Hulle moenie iets dra wat hulle laat sweet nie.

19. En wanneer hulle uitgaan na die buitenste oop stuk grond waar die volk is, dan moet hulle die klere uittrek wat hulle gedra het toe hulle gewerk het. Hulle moet die klere uittrek en hulle moet dit in die gewyde kamers neersit. Hulle moet ander klere aantrek, sodat die volk nie aan die gewyde klere kan raak nie.

Esegiël 44