1. Ek het gevoel die Here sit sy hand op my. Dit was in die 25ste jaar nadat ons gevangenes geword het in die land Babel. Dit was in die begin van die jaar, op die tiende dag van die maand, ja, presies op daardie dag. Dit was 14 jaar nadat die stad Jerusalem verwoes is.
2. Die Here het vir my dinge gewys. Dit het gelyk of Hy my na Jerusalem gebring het en my op ’n baie hoë berg neergesit het. Op die suidekant van die berg was iets wat gelyk het soos ’n stad.
3. Die Here het my daarnatoe gebring, en daar was ’n man, die man het geblink soos brons. In sy hand was ’n tou van vlas en ’n meetriet, en hy het by die poort gestaan.