11. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Die swaard van die koning van Babel sal na jou toe kom.
12. Ek sal jou baie soldate laat doodmaak. Ek sal manne stuur wat goed oorlog kan maak. Hulle almal is wrede mense, hulle sal alles verwoes waarop Egipte trots is, hulle sal al Egipte se soldate doodmaak.
13. Ek sal al die diere van Egipte laat verdwyn, die diere by die baie water. ’n Mens se voet of ’n dier se poot sal nie weer die water vuil maak nie.
14. Dan sal Ek die water weer stil laat word, die riviere sal soos strome olyf-olie vloei.
15. Ek sal Egipte ’n land maak waar niemand kan woon nie en Ek sal alles wegvat wat in die land is. Ek sal almal laat sterf wat in die land woon, dan sal hulle weet dat Ek die Here is.
16. Hierdie lied is ’n klaaglied. Die vroue van die volke moet dit sing. Hulle moet ’n klaaglied sing oor die farao en al sy soldate.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
17. Die Here het met my gepraat. Dit was in die twaalfde jaar, op die vyftiende dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:
18. “Mens, jy moet huil en treur, jy moet sing oor die soldate van Egipte wat sal sterf. Jy moet hulle en die vroue van belangrike volke laat gaan na die land daar onder, saam met die mense wat afgaan in die graf.
19. Jy moet vir Egipte sê: ‘Jy is nie beter as die ander lande nie, jy moet afgaan en by die mense daar onder gaan lê, niemand respekteer daardie mense nie.’
20. Egipte en al sy soldate sal val tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Ek het hulle vir die swaard gegee. Die vyande sal hulle wegsleep.
21. Die belangrike manne wat oorlog gemaak het, sal uit die doderyk praat, hulle sal oor Egipte en oor almal wat vir Egipte gehelp het, sê: ‘Hulle gaan af, hulle gaan lê by die mense wat dood is. Daardie mense het in oorlog gesterf, niemand respekteer hulle nou nie.’
22. “Assirië en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf.
23. Die grafte van Assirië is in die verste plekke van die doderyk. Sy mense lê rondom hom in hulle grafte. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het almal in oorlog gesterf.
24. “Elam en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf. Niemand respekteer hulle nou nie. Hulle moes afgaan na die land daar onder. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar nou is hulle nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat in die graf afgaan.