Esegiël 22:21-27 Bybel vir Almal (ABA)

21. Ek sal julle almal saam laat brand in Jerusalem, want Ek is kwaad, Ek sal julle laat smelt.

22. Julle sal in Jerusalem smelt soos silwer smelt in ’n smelt-oond. Julle sal weet en voel dat Ek kwaad is vir julle.”

23. Ek het gehoor die Here sê vir my:

24. “Mens, jy moet vir die land Israel sê: Israel, jy is ’n land waar die mense nie meer rein kan word nie. Die dag het gekom wanneer Ek hulle sal straf. Daar sal niks reën op jou val nie.

25. Die leiers wat oor die land regeer, is soos leeus wat brul en alles doodbyt. Hulle het mense doodgemaak en hulle het die kosbare goed vir hulleself gevat, hulle het baie vroue in die land weduwees laat word.

26. Die priesters het my wette verkeerd verduidelik. Hulle het my gewyde dinge ontwy, hulle het nie die gewyde dinge apart gehou van die dinge wat nie gewy is nie, hulle het nie vir die mense geleer wat is rein en wat is onrein nie. Hulle maak of die Sabbatdag dieselfde is soos ’n ander dag. Hulle dink nie meer Ek is heilig nie.

27. Die amptenare in die land is soos wolwe wat diere doodbyt en hulle bloed laat vloei. Hulle vermoor mense om daardie mense se goed te kan vat.

Esegiël 22