Eksodus 8:12-29 Bybel vir Almal (ABA)

12. Moses en Aäron het van die farao af weggegaan. Moses het gebid en vir die Here gevra dat Hy die paddas moet wegvat wat Hy gestuur het om die farao te straf.

13. Die Here het gedoen wat Moses gevra het. Al die paddas het gevrek, die paddas in die huise, die paddas buite die huise en die paddas in die veld.

14. Die mense het die paddas bymekaargemaak en alles opmekaar gegooi. Die land het gestink.

15. Maar toe die farao sien die paddas is weg, het hy weer hardkoppig geword. Hy het nie na Moses en Aäron geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.

16. Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê: “Slaan met jou kierie op die grond. Die stof sal dan in muggies verander, en Egipte sal vol muggies wees.”

17. Moses en Aäron het dit gedoen. Aäron het met sy kierie op die grond geslaan. Die stof het in muggies verander en hulle het oral op die mense en die diere gaan sit. Al die stof in die hele Egipte het in muggies verander.

18. Die towenaars het probeer om dieselfde te doen. Hulle wou ook die stof in muggies verander, maar hulle kon nie. Die muggies was op al die mense en al die diere.

19. Die towenaars sê toe vir die farao: “Dit is God wat die muggies gestuur het!”Maar die farao was hardkoppig, hy het nie na hulle geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.

20. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan môre-oggend vroeg en wag vir die farao wanneer hy na die rivier kom. Sê vir hom die Here sê hy moet die Israeliete laat gaan sodat hulle Hom kan dien.

21. As hy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek steekvlieë stuur. Die steekvlieë sal op die farao, op sy amptenare, op sy mense en in hulle huise wees. Die huise van die Egiptenaars sal vol steekvlieë wees, ook die hele land.

22. Maar dieselfde sal nie gebeur in die land Gosen waar my volk woon nie. Daar sal nie steekvlieë wees nie. Dan sal die farao weet dat Ek die Here is in hierdie land.

23. Ek sal my volk beskerm, maar Ek sal nie die Egiptenaars beskerm nie. Dit sal môre gebeur en dit sal bewys dat Ek die Here is.”

24. Die Here het dit toe gedoen. Daar het baie groot swerms steekvlieë gekom na die farao se huis, na sy amptenare se huise en na die hele Egipte. Al die mense in die land het baie swaar gekry omdat daar so baie steekvlieë was.

25. Die farao het vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Julle mag vir julle God offers gaan bring, maar julle moet dit in hierdie land doen.”

26. Moses het gesê: “Nee, dit sal nie reg wees om in hierdie land offers te bring nie, want die Egiptenaars haat dit wanneer ons vir die Here offers bring. Wanneer hulle sien ons bring offers, dan sal hulle ons met klippe doodgooi.

27. Ons wil in die woestyn ingaan, so ver soos ’n mens in drie dae kan loop, en ons wil daar vir ons God die Here offers bring, soos Hy vir ons gesê het.”

28. Toe sê die farao: “Ek sal julle laat gaan sodat julle vir julle God die Here in die woestyn offers kan bring. Maar julle mag nie baie ver gaan nie en julle moet vir my bid.”

29. Moses het gesê: “Ek gaan nou weg van jou en ek sal bid en vir die Here vra dat die steekvlieë môre moet weggaan van jou, weg van jou amptenare en van jou volk. Maar jy moenie weer anders besluit en sê ons mag nie gaan om vir die Here offers te bring nie.”

Eksodus 8