Eksodus 34:5-21 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die Here het toe in ’n wolk afgekom na die berg. Hy het by Moses gaan staan en Hy het sy Naam “die Here” hard gesê.

6. Die Here het voor Moses verbygegaan en Hy het hard gesê: “Ek is die Here! Ek is ’n God wat goed is vir mense wat swaarkry en Ek is genadig. Ek is baie geduldig en vol liefde. Ek doen wat Ek belowe het.

7. Ná 1 000 geslagte sal Ek nog altyd lief wees vir mense. Ek vergewe mense wanneer hulle verkeerd doen en opstandig is en sonde doen. Maar as Ek wil, dan sal Ek iemand straf wat skuldig is. As die pa verkeerd gedoen het, dan straf Ek ook sy kinders en kleinkinders en hulle kinders.”

8. Moses het vinnig op die grond gekniel en hy het voor die Here gebuig.

9. Hy het gesê: “Here, as U tevrede is met my, dan moet U asseblief saam met ons gaan. Hierdie volk is hardkoppig. Ons het verkeerd gedoen, ons het sonde gedoen. Vergewe ons asseblief. Laat ons weer u eie volk wees.”

10. Die Here het gesê: “Ek maak nou ’n verbond met julle. Al die Israeliete sal sien dat Ek wonderwerke doen. Niemand het al hierdie wonderwerke gedoen op die hele aarde nie, nie by een van die volke nie. Al die volke rondom julle sal sien wat Ek doen. Hulle sal bang word vir My en hulle sal My respekteer wanneer hulle sien wat Ek vir julle doen.

11. Julle moet doen wat Ek vandag vir julle sê. Ek gaan nou die Amoriete en die Kanaäniete en die Hetiete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete voor julle wegjaag.

12. Julle moenie ’n ooreenkoms maak met die mense van die land waarnatoe julle gaan nie. Dit sal vir julle baie groot probleme gee.

13. Nee, julle moet hulle altare afbreek en julle moet hulle klip-pale stukkend breek en hulle gewyde pale afkap.

14. Julle mag nie voor ’n ander god buig nie, julle moet net vir My dien. Daarom noem hulle My ‘die God wat wil hê die mense moet net vir Hom dien.’

15. Julle mag nie ’n ooreenkoms maak met die mense wat in die land woon nie, want wanneer hulle die ander gode dien en vir hulle gode offer, dan sal hulle miskien vir julle ook uitnooi, en dan sal julle saam met hulle van daardie offers eet.

16. Julle sal party van hulle dogters neem sodat julle seuns met hulle kan trou. Hulle dogters sal ander gode dien en hulle sal julle seuns verlei sodat hulle ook ander gode dien.

17. Julle mag nie vir julle beelde van gode maak nie.”

18. “Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet soos Ek vir julle gesê het. Julle moet altyd hierdie fees vier op dieselfde dag van die maand Abib, want in die maand Abib het julle weggegaan uit Egipte.”

19. “Elke oudste seun wat gebore word, behoort aan My, en ook die oudste bul-kalwers en ram-lammers.

20. Maar ’n donkie se eerste hings-vul moet julle loskoop. Julle moet ’n lam gee in die plek van die donkie. As julle nie die donkie-vul loskoop nie, dan moet julle sy nek breek. Julle moet al julle oudste seuns loskoop.”“Julle moet altyd ’n offer saambring wanneer julle na die tempel kom.

21. “Julle moet ses dae lank werk, maar op die sewende dag moet julle rus. Julle moet op hierdie dag rus, ook wanneer dit tyd is om te ploeg of te oes.

Eksodus 34