Eksodus 33:6-15 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die Israeliete het van toe af nie meer hulle juwele gedra nie. Dit was toe hulle weggegaan het van Sinai-berg.

7. Moses het ’n tent geneem en hy het dit opgeslaan buite die kamp, ver van die kamp. Hy het dit genoem “die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn,” want dit is waar die Here altyd aan hulle verskyn het. Wanneer iemand wou weet wat die Here sê, dan het hy gegaan na die tent waar die Here aan hulle verskyn het, die tent wat buite die kamp was.

8. Wanneer Moses na die tent gegaan het, dan het al die mense opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent gaan staan en na Moses gekyk totdat hy in die tent ingegaan het.

9. Wanneer Moses by die tent gekom het, dan het ’n wolk afgekom en by die ingang van die tent gebly. Dan het die Here met Moses gepraat.

10. En wanneer al die mense die wolk by die ingang van die tent gesien het, dan het hulle almal opgestaan en elkeen het by die ingang van sy tent gebuig.

11. Die Here het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend praat. Daarna het Moses teruggegaan na die kamp, maar sy helper, die jongman Josua, het nie weggegaan van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn nie. Josua was die seun van Nun.

12. Moses het vir die Here gesê: “U sê vir my ek moet die volk wegneem, maar U sê nie vir my wie U saam met my sal stuur nie. U het gesê: ‘Ek ken jou, Ek is tevrede met jou.’

13. Daarom vra ek nou, as U regtig tevrede is met my, sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken, en kan weet U is tevrede met my. Onthou, hierdie volk is u eie volk.”

14. Die Here het gevra: “Moet Ek self saamgaan en jou na die land bring?”

15. Moses het vir Hom gesê: “As U nie self met ons saamgaan nie, dan moet U ons nie laat weggaan van hier nie.

Eksodus 33