Eksodus 29:28-40 Bybel vir Almal (ABA)

28. Die Israeliete moet altyd vir Aäron en sy seuns hierdie dele van hulle ete-offers gee. Dit is hulle present vir die Here.”

29. “Wanneer Aäron sterf, dan moet julle sy gewyde klere neem en vir sy seun aantrek. Julle moet hom salf en hom in Aäron se plek wy sodat hy die priester kan wees.

30. Aäron se seun wat ná hom die priester word, moet die klere sewe dae lank dra wanneer hy kom werk in die tent waar Ek aan julle verskyn.

31. Julle moet al die vleis neem wat oorgebly het van die skaap-ram waarmee julle Aäron en sy seuns gewy het. Kook dit op ’n gewyde plek.

32. Aäron en sy seuns moet die ram se vleis en die brood wat in die mandjie is, eet by die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn.

33. Hulle moet dit eet, want toe hulle priesters geword het, het hierdie offers versoening gebring vir hulle. Iemand wat nie ’n priester is nie, mag nie daarvan eet nie, want dit is gewyde kos.

34. As daar die volgende oggend van die vleis en van die brood oor is, dan moet julle dit verbrand. Julle mag dit nie eet nie, want dit is gewyde kos.

35. Alles wat Ek vir jou gesê het, moet julle doen met Aäron en sy seuns. Julle moet hulle sewe dae lank wy.”

36. “Julle moet elke dag ’n bul op die altaar offer. Dit is ’n sonde-offer en dit sal die altaar reinig. Julle moet ook die altaar salf om dit te wy.

37. Julle moet sewe dae lank die versoening-offer bring om die altaar te wy. Dan sal die altaar hoog-gewy wees. As iets dan aan die altaar raak, dan sal dit ook gewy wees.”

38. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet elke dag twee lammers op die altaar offer. Die lammers moet een jaar oud wees.

39. Julle moet een lam in die oggend offer en een lam in die aand.

40. Saam met die eerste lam moet julle ’n issaron van die beste meel offer. Meng dit eers met ’n kwart hin skoon olyf-olie en ’n kwart hin wyn.

Eksodus 29