Eksodus 26:14-25 Bybel vir Almal (ABA)

14. Julle moet ook ’n seil maak van skaapvelle wat julle rooi gekleur het. Dan moet julle nog ’n seil maak van velle wat julle sag gemaak het, en julle moet dit bo-oor die rooi seil sit.

15. Julle moet rame van doringhout maak om die tempel-tent regop te hou.

16. Elke raam moet tien el lank en een en ’n halwe el breed wees.

17. Elke raam moet twee houtpenne en twee gate hê sodat julle die pale goed aan mekaar kan vassit. So moet julle maak met al die rame van die tempel-tent.

18. Julle moet 20 rame maak vir die suidekant van die tempel-tent.

19. Julle moet ook 40 voetstukke van silwer maak en julle moet die voetstukke onder die 20 rame sit, twee voetstukke onder elke raam waar die houtpenne is.

20-21. Julle moet ook 20 rame en 40 voetstukke van silwer maak vir die noordekant van die tempel-tent.

22. Vir die westekant van die tempel-tent moet julle ses rame maak,

23. en ook twee rame op elke hoek van die tent.

24. Julle moet die hoekrame sterker maak van onder tot by die boonste ring. Dit is die hoekrame.

25. Die rame aan die westekant moet almal saam ag wees, en 16 voetstukke van silwer.

Eksodus 26