Deuteronomium 9:19-29 Bybel vir Almal (ABA)

19. Ek was baie bang dat die Here so kwaad was vir julle dat Hy julle almal sou doodmaak. Maar die Here het ook hierdie maal gedoen wat ek vir Hom gevra het.

20. En die Here was so kwaad vir Aäron dat Hy hom wou doodmaak, maar ek het toe ook vir Aäron gebid.

21. Julle het groot sonde gedoen toe julle die kalfbeeld gemaak het, maar ek het die beeld gevat en verbrand en fyngestamp. Ek het dit gemaal totdat dit poeier was, en ek het die poeier gegooi in die riviertjie wat afkom teen die berg.

22. Julle het die Here ook kwaad gemaak by Brandplek en by Massa en by Lus-grafte.

23. En julle was opstandig teen die Here toe Hy julle gestuur het van die stad Kades-Barnea en toe Hy vir julle gesê het: ‘Gaan vat die land wat Ek vir julle gee.’ Maar julle het nie geglo dat Hy sal doen wat Hy belowe het nie en julle het nie gedoen wat Hy gesê het nie.

24. Julle was opstandig teen die Here van daardie dag af dat ek julle ken.

25. Ek het toe weer voor die Here gaan lê, ek het 40 dae en 40 nagte lank voor Hom gelê, want die Here het gesê Hy wil julle almal doodmaak.

26. Ek het tot die Here gebid en gevra: ‘Here, my Here, U moenie u volk almal doodmaak nie, hulle is u volk. U het hulle vir Uself losgekoop en U het hulle met u groot krag uit Egipte gebring, U is groot.

27. U moet dink aan u dienaars, aan Abraham en Isak en Jakob. U moet wegkyk van hierdie hardkoppige volk, U moet wegkyk van die dinge wat hulle verkeerd gedoen het, U moenie kyk na hulle sonde nie.

28. As U hulle laat sterf, dan sal die mense van die land waaruit U ons gebring het, sê: “Die Here kon hulle nie bring na die land wat Hy vir hulle belowe het nie, en Hy het hulle uitgebring om hulle in die woestyn te laat sterf omdat Hy hulle haat.”

29. Maar hierdie volk is ú volk, hulle behoort aan U, en U het hulle uitgebring met u groot krag.’ ”

Deuteronomium 9