Deuteronomium 29:14-20 Bybel vir Almal (ABA)

14. Ek maak hierdie verbond nie net met julle nie en ek sê nie net vir julle wat met julle sal gebeur as julle die verbond breek nie.

15. Ek maak hierdie verbond met almal wat hier saam met ons staan en ook met almal wat nie vandag hier saam met ons is nie.

16. Want julle weet dat ons in die land Egipte gewoon het en dat ons tussen ander volke deur gegaan het tot hier.

17. Julle het hulle lelike afgode gesien, afgode van hout en klip, silwer en goud.

18. Daar mag nie ’n man of ’n vrou of ’n familie of ’n stam wees wat vandag dink dat hulle wil weggaan van ons God die Here nie, hulle moenie dink dat hulle die gode van daardie volke sal gaan dien nie. As iemand dit dink, dan sal hy wees soos ’n wortel waaruit gifplante en wilde-als groei.

19. So iemand sal miskien hoor wat sal gebeur wanneer hy die verbond breek, maar hy is hardkoppig en hy sê: ‘Dit sal goed gaan met my, ek sal doen wat ek wil.’

20. Dan sal die Here daardie persoon nie vergewe nie, want die Here sal baie kwaad wees vir hom, en dit sal baie sleg gaan met hom, so sleg soos dit in hierdie wetboek geskryf is. Die Here sal almal op die aarde laat vergeet dat daar so iemand was.

Deuteronomium 29