14. Dawid het vir Gad gesê: “Ek het ’n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig, maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.”
15. Die Here het pes laat kom in die land Israel van die oggend tot die tyd wat Hy gesê het. Daar het 70 000 mense gesterf, van die stad Dan tot by die stad Berseba.
16. Toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om die mense van die stad te laat sterf, het die Here besluit dat die straf moet ophou. Hy het vir die engel wat die mense laat sterf het, gesê: “Stop, dit is nou genoeg, laat sak jou hand.”Die engel van die Here was by die dorsvloer van die Jebusiet Arauna.
17. Toe Dawid die engel sien wat die mense laat sterf, het hy vir die Here gesê: “Dit is ék wat sonde gedoen het, dit is ék wat verkeerd gedoen het. Wat het hierdie mense verkeerd gedoen? Niks. U moet mý en my familie straf.”
18. Gad het daardie dag by Dawid gekom en vir hom gesê: “Jy moet gaan en jy moet vir die Here ’n altaar bou op die dorsvloer van die Jebusiet Arauna.”
19. Dawid het gegaan soos Gad gesê het, hy het gaan doen wat die Here beveel het.
20. Arauna het gekyk en gesien die koning en sy amptenare kom na hom toe. Arauna het uitgegaan en hy het voor die koning gebuig met sy gesig teen die grond.
21. Hy het gevra: “Hoekom kom Meneer die koning na my toe?”Dawid het gesê: “Ek kom om jou dorsvloer te koop. Ek moet vir die Here ’n altaar bou sodat die mense kan ophou sterf.”
22. Arauna het vir Dawid gesê: “Meneer die koning moet neem wat jy wil hê en jy moet offer wat jy wil offer. Kyk, hier is beeste vir die brand-offer en hier is die dors-sleë en die jukke vir brandhout.
23. Koning, ek gee dit alles vir jou.”
24. Die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek wil dit van jou koop, jy moet sê hoeveel ek moet betaal. Ek wíl dit doen. Ek sal nie vir my God die Here brand-offers bring as ek nie daarvoor betaal het nie.”Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop, hy het 50 sikkels silwer betaal.
25. Dawid het daar ’n altaar vir die Here gebou en hy het brand-offers en ete-offers gebring. Die Here het sy offers vir die land aanvaar, en die mense van Israel het opgehou sterf.