2 Samuel 13:12-24 Bybel vir Almal (ABA)

12. Maar sy het vir hom gesê: “Nee, my broer, jy moenie vir my verkrag nie. So iets is verkeerd, Israeliete mag dit nie doen nie. Moenie hierdie slegte ding doen nie.

13. Dink aan my. Waarnatoe sal ek gaan? Dit sal ’n skande wees. En jy, almal sal dink jy is ’n dwaas. Daarom, praat asseblief met die koning, hy sal jou met my laat trou.”

14. Maar Amnon wou nie na haar luister nie. Hy was sterker as sy en hy het haar verkrag.

15. En daarna het Amnon niks meer van haar gehou nie. Hy het haar meer gehaat as wat hy voorheen verlief was op haar. Hy het vir haar gesê: “Jy moet opstaan en loop.”

16. Sy het vir hom gesê: “Nou jaag jy my weg. Jy wil ’n ding doen wat baie slegter is as die ding wat jy klaar aan my gedoen het.”Maar Amnon wou nie luister na haar nie.

17. Hy het die jongman geroep wat hom bedien het en hy het vir hom gesê: “Jaag weg hierdie vrou en maak toe die deur agter haar.”

18. Tamar het ’n lang rok aangehad, die rok het moue gehad. Prinsesse wat nog jongmeisies was, het altyd dit aangetrek. Amnon se bediende het haar uitgestoot buitetoe en hy het die deur toegemaak agter haar.

19. Tamar het as op haar kop gegooi en sy het haar lang rok geskeur. Sy het haar hand op haar kop gesit en sy het geloop en skree en sy het gevra dat iemand haar moet help.

20. Haar broer Absalom het vir haar gevra: “Het jou broer Amnon iets aan jou gedoen? Toemaar, bly stil. Hy is jou broer. Moenie sleg voel daaroor nie.”Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly. Sy was ’n eensame vrou.

21. Toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, was hy baie kwaad.

22. En Absalom het niks met Amnon gepraat nie, niks sleg of goed nie, maar hy het vir Amnon gehaat oor die ding wat hy aan sy suster Tamar gedoen het.

23. Twee jaar later het Absalom mense gekry om sy skape se wol af te skeer by die stad Baäl-Gasor. Die stad het behoort aan die Efraim-stam. Absalom het al die prinse genooi om saam te gaan.

24. Hy het ook vir die koning gaan sê: “Ek kry mense om my skape te skeer, ek vra dat die koning en sy amptenare asseblief saam met my moet gaan.”

2 Samuel 13