18. Die hoof-offisier het die hoëpriester Seraja gevang en ook die tweede priester, Sefanja, en die drie drumpelwagte.
19. Hy het ook uit die stad een offisier geneem wat die hoof was van die soldate, en ook vyf van die koning se raadgewers wat in die stad was, en die sekretaris van die hoof van die leër wat die mense van die land moes roep om oorlog te maak, en ook 60 van die belangrike mense van die land wat toe in die stad was.
20. Die hoof-offisier Nebusaradan het hulle gebring na die koning van Babel in Ribla.
21. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak in Ribla, in die land Hamat. Hy het die ander Judeërs laat wegvat uit hulle land.
22. Koning Nebukadnesar het vir Gedalja seun van Agikam seun van Safan gekies en aangestel oor die mense wat hy in die land Juda laat bly het.
23. Toe al die hoofde van die leër en hulle manne hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na Gedalja toe in Mispa gegaan. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet van die stad Netofa, en Jaäsanja van die stad Maäka, en hulle manne.
24. Gedalja het vir die offisiere en hulle manne gesê: “So seker soos die Here lewe, julle moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Julle moet in die land woon en vir die koning van Babel werk, dan sal dit goed gaan met julle.”
25. Ismael seun van Netanja seun van Elisama was familie van die koning. In die sewende maand het Ismael en tien manne saam met hom vir Gedalja vermoor. Hulle het ook die Judeërs en Galdeërs vermoor wat saam met hom in Mispa was.
26. Daarna het al die mense, kinders en grootmense, en ook die hoofde van die leër, gereedgemaak en na Egipte gegaan, want hulle was bang vir die Galdeërs.
27. In die sewe-en-dertigste jaar nadat koning Jojagin van Juda ’n gevangene geword het, het koning Ewil-Merodak van Babel vir Jojagin uit die tronk laat uitkom. Dit was in die twaalfde maand, op die sewe-en-twintigste dag van die maand.