8. Hiskia het gevra hoe hy sal weet dat die Here hom gesond sal maak sodat hy oormôre weer na die tempel kan gaan.
9. Jesaja het gesê: “Die Here sal doen wat Hy gesê het, en dit sal vir jou die teken wees: Die son is al klaar laag, en die skaduwee op die trappe wys dat dit laat is. Moet die Here die skaduwee tien trappe vorentoe laat gaan of moet Hy dit tien trappe terug laat gaan?”
10. Hiskia het gesê: “Die skaduwee kan maklik tien trappe vorentoe gaan. Nee, die skaduwee moet tien trappe teruggaan.”
11. Die profeet Jesaja het tot die Here gebid, en die Here het die skaduwee tien trappe terug laat gaan op die trappe van koning Agas. Dit het gewys dat die son weer hoog in die lug is.
12. Merodak-Baladan seun van Baladan was die koning van Babel. Hy het gehoor dat koning Hiskia siek is. Hy het eendag vir Hiskia briewe en presente gestuur.
13. Hiskia het geluister na die boodskappers en hy het vir hulle alles gewys wat hy in sy stoorkamers gebêre het: die silwer en die goud, die balsem en die skoon olyf-olie, en ook sy hele wapenkamer, ja, alles wat in sy stoorkamers was. Hiskia het vir die boodskappers alles gewys wat in sy paleis en in sy hele land was.
14. Die profeet Jesaja het na koning Hiskia toe gekom en hy het vir die koning gevra: “Wat het daardie manne gesê? Van watter land het hulle gekom?”Hiskia het vir hom gesê: “Hulle het van ’n ver land na my toe gekom, van die land Babel.”
15. Jesaja het gevra: “Wat het hulle in jou paleis gesien?”Hiskia het gesê: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Ek het vir hulle alles gewys wat in my stoorkamers is.”
16. Jesaja het vir Hiskia gesê: “Jy moet luister na wat die Here sê:
17. Die soldate van Babel sal eendag alles kom vat wat in jou paleis is, alles wat jou voorvaders en jy bymekaargemaak het. Daar sal niks oorbly nie. Dit is wat die Here sê.
18. En hulle sal party van jou eie seuns vat om in die koning van Babel se paleis te werk.”
19. Hiskia het vir Jesaja gesê: “Ek het gehoor wat jy sê. Wat die Here gesê het, is goed.”Hiskia het ook gesê: “Ek hoop ons sal vrede hê en veilig wees so lank soos ek nog lewe.”
20. Al die ander dinge wat Hiskia gedoen het, al die belangrike dinge wat hy gedoen het, en die dam en die watertonnel wat hy laat bou het toe hy die water in die stad gebring het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.
21. Hiskia het gesterf, en sy seun Manasse het koning geword ná hom.