1 Samuel 6:9-21 Bybel vir Almal (ABA)

9. Julle moet kyk waarnatoe die koeie en die wa gaan. As die wa gaan na die stad Bet-Semes in die land van die Here, dan sal ons weet dit is die Here wat ons so swaar laat kry het. As die wa nie daarnatoe gaan nie, dan sal ons weet dit is nie die Here wat ons laat swaarkry het nie, dit het sommer met ons gebeur.”

10. Die manne het dit toe gedoen. Hulle het twee koeie geneem wat kalwers het. Die koeie het die wa getrek, en die manne het die kalwers by die huis laat bly.

11. Hulle het die kis van die Here op die wa gesit en hulle het die goue muise en die beelde van die sere in die wa-kis gesit.

12. Die koeie het reguit geloop op die pad na Bet-Semes toe. Hulle het op die pad gebly en hulle het aangehou om te bulk. Hulle het nie links of regs gedraai nie, en die leiers van die Filistyne het agter hulle geloop tot waar die grond van Bet-Semes begin.

13. Die mense van Bet-Semes was besig om koring af te sny in die vallei. Toe hulle opkyk en hulle sien die kis, was hulle baie bly.

14. Die wa het gekom tot by die grond van Josua van Bet-Semes, en daar het die wa gaan staan. Daar was ’n groot klip. Die mense van Bet-Semes het die hout van die wa stukkend gekap en hulle het die koeie ge-offer vir die Here.

15. Die Leviete het die kis van die Here afgehaal van die wa, en ook die wa-kis wat daarby was en die goue goed wat daarin was. Hulle het dit op die groot klip neergesit. Die mense van Bet-Semes het daardie dag brand-offers en ander offers vir die Here gebring.

16. Die vyf leiers van die Filistyne het dit gesien en hulle het dieselfde dag teruggegaan na die stad Ekron.

17. Die skuld-offer wat die Filistyne vir die Here gestuur het, was vyf goue sere, een seer vir elke stad. Die stede was Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron.

18. Die Filistyne het ook ’n goue muis gestuur vir elke stad waaroor die vyf leiers regeer het, die stede wat sterk mure het en ook die klein stadjies in die land. Die groot klip waarop die Leviete die kis van die Here neergesit het, is nou nog op die grond van Josua van Bet-Semes.

19. Die mense van die stad Bet-Semes het gekyk na die kis van die Here, en toe het die Here 70 van hulle laat sterf. Die mense van Bet-Semes het gehuil en getreur omdat die Here so baie van hulle laat sterf het

20. en hulle het gesê: “Wie kan naby die Here kom, naby hierdie heilige God? Waarnatoe kan ons die kis van die Here stuur?”

21. Hulle stuur toe boodskappers na die mense van die stad Kirjat-Jearim en sê vir hulle: “Die Filistyne het die kis van die Here teruggebring. Julle moet dit kom haal en na julle toe neem.”

1 Samuel 6