1 Samuel 16:11-23 Bybel vir Almal (ABA)

11. Samuel vra toe vir Isai: “Het jy nog ander seuns?”Isai het gesê: “Daar is nog een seun, hy is die jongste, maar hy pas die skape en bokke op.”Samuel het vir Isai gesê: “Jy moet hom laat kom, want ons sal nie begin eet voordat hy hier is nie.”

12. Isai het vir Dawid laat kom. Dawid het baie gesond gelyk. Hy het mooi oë gehad en hy kon goed sien. Die Here het gesê: “Jy moet opstaan en hom salf, want hy is die regte een.”

13. Samuel het die horing met die olyf-olie daarin geneem en hy het vir Dawid gesalf. Sy broers het dit gesien. Die Gees van die Here het van daardie dag af in Dawid gekom. Samuel het gereedgemaak en teruggegaan na Rama.

14. Die Gees van die Here het weggegaan van Saul, en ’n bose gees wat van die Here gekom het, het vir Saul laat swaarkry.

15. Sy amptenare het vir hom gesê: “Ons sien dat ’n bose gees wat van God kom, jou laat swaarkry.

16. Koning, jy moet sê, dan sal ons iemand soek wat vir jou musiek kan maak op die lier. Wanneer die bose gees in jou kom, dan moet die persoon musiek maak op die lier, dan sal dit beter gaan met jou.”

17. Saul het vir sy amptenare gesê: “Goed. Kyk of julle iemand kan kry wat goed musiek kan maak, en bring hom na my toe.”

18. Een van die amptenare het toe gesê: “Ek het gesien een van Isai van Betlehem se seuns kan goed musiek maak op die lier. Hy is ’n belangrike man en hy kan goed oorlog maak en goed praat. Hy is mooi en die Here is by hom.”

19. Saul het toe boodskappers na Isai toe gestuur en gesê: “Jou seun Dawid is by die skape en bokke, jy moet hom na my toe stuur.”

20. Isai het brood en ’n velsak wyn op ’n donkie gelaai en hy het dit en ’n bok-lam saam met Dawid vir Saul gestuur.

21. Dawid het na Saul toe gekom en hy het vir Saul begin werk. Saul het baie lief geword vir Dawid, en Dawid het Saul se wapendraer geword.

22. Saul het vir Isai ’n boodskap gestuur en gevra: “Mag Dawid asseblief by my bly en vir my werk, want ek hou van hom.”

23. Elke maal wanneer die bose gees wat van God gekom het, in Saul gekom het, dan het Dawid die lier geneem en musiek gemaak. Dan het Saul rustig geword en beter gevoel, en die bose gees het weggegaan van hom.

1 Samuel 16