1 Kronieke 21:3-10 Bybel vir Almal (ABA)

3. Joab het gesê: “Ek wens die Here maak sy volk 100 maal meer as wat hulle is. Maar, Meneer die koning, hulle behoort almal aan jou, hoekom wil jy hierdie ding doen? Die Here sal die Israeliete straf as jy dit doen.”

4. Maar die koning het gesê Joab móét dit doen, en Joab moes doen wat die koning gesê het. Joab het deur die hele land Israel gegaan en hy het toe teruggekom in Jerusalem.

5. Hy het vir Dawid gesê hoeveel mense hy getel het. Die manne van Israel wat oorlog kon maak, was almal saam 1 100 000, en die manne van Juda wat oorlog kon maak, was 470 000.

6. Joab het nie die manne van die Levi-stam en die Benjamin-stam saam met die ander manne getel nie, want hy het dit gehaat om te doen wat die koning gesê het.

7. Die Here het ook nie gehou van wat Dawid gedoen het nie en Hy het die Israeliete gestraf.

8. Toe het Dawid vir God gesê: “Ek het ’n groot sonde gedoen toe ek hierdie ding laat doen het. Nou moet U asseblief u dienaar se sonde vergewe, want ek het ’n baie dom ding gedoen.”

9. Gad was Dawid se siener. Die Here het vir Gad gesê:

10. “Jy moet vir Dawid gaan sê Ek sê: Dawid, Ek noem drie dinge vir jou. Jy moet een kies, dan sal Ek dit met jou laat gebeur.”

1 Kronieke 21