1. Die Satan was teen die Israeliete. Hy het vir Dawid laat besluit om die Israeliete te laat tel.
2. Dawid het vir Joab en die leiers van die volk gesê: “Julle moet al die Israeliete gaan tel, van die stad Berseba tot by die stad Dan, en julle moet vir my kom sê hoeveel mense hulle is, ek wil dit weet.”
3. Joab het gesê: “Ek wens die Here maak sy volk 100 maal meer as wat hulle is. Maar, Meneer die koning, hulle behoort almal aan jou, hoekom wil jy hierdie ding doen? Die Here sal die Israeliete straf as jy dit doen.”
4. Maar die koning het gesê Joab móét dit doen, en Joab moes doen wat die koning gesê het. Joab het deur die hele land Israel gegaan en hy het toe teruggekom in Jerusalem.
5. Hy het vir Dawid gesê hoeveel mense hy getel het. Die manne van Israel wat oorlog kon maak, was almal saam 1 100 000, en die manne van Juda wat oorlog kon maak, was 470 000.
6. Joab het nie die manne van die Levi-stam en die Benjamin-stam saam met die ander manne getel nie, want hy het dit gehaat om te doen wat die koning gesê het.
7. Die Here het ook nie gehou van wat Dawid gedoen het nie en Hy het die Israeliete gestraf.
8. Toe het Dawid vir God gesê: “Ek het ’n groot sonde gedoen toe ek hierdie ding laat doen het. Nou moet U asseblief u dienaar se sonde vergewe, want ek het ’n baie dom ding gedoen.”
9. Gad was Dawid se siener. Die Here het vir Gad gesê:
10. “Jy moet vir Dawid gaan sê Ek sê: Dawid, Ek noem drie dinge vir jou. Jy moet een kies, dan sal Ek dit met jou laat gebeur.”
11. Gad het na Dawid toe gegaan en hy het vir Dawid gesê: “Die Here sê jy moet sê wat moet gebeur:
12. Wil jy hê daar moet drie jaar lank hongersnood wees, of wil jy drie maande lank vlug vir jou vyande? Hulle sal so naby jou kom dat hulle jou en jou mense kan doodmaak. Of moet die Here self jou mense in die land drie dae lank laat sterf van pes? Moet die Engel van die Here mense in die hele land Israel doodmaak? Jy moet besluit en sê wat ek moet sê vir Hom wat my gestuur het.”
13. Dawid het vir Gad gesê: “Ek het ’n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig. Maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.”