5. Maar ’n vrou wat bid of wat God se boodskap bring, moet ’n sluier oor haar kop dra. As sy nie ’n sluier dra nie, dan eer sy nie haar hoof, haar man, nie, want dan is sy dieselfde soos ’n vrou wat haar kop kaal geskeer het.
6. As ’n vrou nie ’n sluier wil dra nie, dan moet sy ook haar hare afsny. Maar julle weet dat dit verkeerd is wanneer ’n vrou haar hare afsny of haar kop kaal skeer. Daarom moet sy ’n sluier dra wanneer sy bid of God se boodskap bring.
7. ’n Man moenie iets op sy kop dra wanneer hy bid of God se boodskap bring nie, want hy is die hoof in God se plek en hy moet God eer. Maar die vrou moet haar man eer.
8. Want God het die man nie uit die vrou gemaak nie, Hy het die vrou uit die man gemaak.
9. En God het die vrou gemaak om die man te help, Hy het nie die man gemaak om die vrou te help nie.
10. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra. So wys sy dat haar man haar hoof is. En dan is die engele ook tevrede.
11. Maar onthou: Die man en die vrou behoort altwee aan die Here. Daarom het die man sy vrou nodig, en die vrou het haar man nodig.
12. Ja, dit is reg, God het die vrou uit die man gemaak. Maar elke man word uit ’n vrou gebore. En so kom alles van God.
13. Julle moet nou self besluit: Is dit reg dat ’n vrou tot God bid wanneer sy niks op haar kop dra nie? Nee.
14. Ons sien by al die volke dat dit nie reg is dat ’n man lang hare dra nie.
15. Maar as ’n vrou lang hare het en sy maak dit mooi, dan lyk sy pragtig. Want ’n vrou het lang hare gekry sodat sy haar kop kan toemaak.
16. As daar iemand is wat oor hierdie dinge wil stry, dan sê ek vir hom: By ons én by die ander gemeentes van God stry ons nie oor hierdie dinge nie. Die vroue dra altyd sluiers wanneer hulle bid of wanneer hulle ’n boodskap van God bring.
17. Daar is iets anders wat ek vir julle moet sê, maar ek kan julle nie hieroor prys nie. Wanneer julle in die kerk bymekaar is, dan gebeur daar dinge wat julle geloof nie sterker maak nie, dit maak julle geloof swakker.