29. Die twee groepe soldate het sewe dae lank oorkant mekaar in hulle tente gebly. Op die sewende dag het die oorlog begin, en die Israeliete het op een dag 100 000 Arameërs doodgemaak. Dit was voetsoldate.
30. Die Arameërs wat oorgebly het, het in die stad Afeka in gevlug, maar toe het die muur van die stad omgeval op die 27 000 manne wat oorgebly het. Ben-Hadad het in die stad van die een kamer na die ander kamer gevlug.
31. Sy offisiere het vir hom gesê: “Luister asseblief, ons het gehoor dat die konings van Israel genadig is. Ons moet rouklere aantrek en toue om ons koppe bind en ons moet na die koning van Israel toe gaan. Miskien sal hy jou nie doodmaak nie.”
32. Hulle trek toe rouklere aan en hulle bind toue om hulle koppe en hulle gaan na die koning van Israel toe en hulle sê vir hom: “Jou slaaf Ben-Hadad vra: ‘Jy moet my asseblief nie doodmaak nie.’ ”En toe vra Agab: “Lewe Ben-Hadad nog? Hy is my broer!”
33. Die manne het gesien Agab is vriendelik, en hulle het dadelik gesê: “Ja, Ben-Hadad is jou broer.”Agab het gesê: “Gaan haal hom.”Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab gesê hy moet by hom op die oorlogkar klim.
34. Ben-Hadad het vir Agab gesê: “Agab, ek gee die stede terug wat my pa van jou pa gevat het, en jy kan vir jou plekke in die strate van Damaskus maak om goed te koop en te verkoop, soos my pa in Samaria gedoen het.”Agab het vir Ben-Hadad gesê hy sal hom vry laat weggaan as hy ’n ooreenkoms met hom maak. Ben-Hadad het dit gedoen, en Agab het hom laat gaan.