1 Konings 11:33-43 Bybel vir Almal (ABA)

33. Ek vat die land weg van Salomo en sy familie omdat hulle weggegaan het van My en gebuig het voor Astarte, die godin van die Sidoniërs, en voor Kemos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die Ammoniete. Salomo het nie gelewe soos Ek wou hê nie en hy het nie die regte dinge gedoen waarvan Ek hou nie, die dinge wat Ek in my wette gesê het. Sy pa Dawid het dit gedoen, hy het reg gelewe.

34. Maar Ek sal nie die hele land wegvat van Salomo nie, hy sal aanhou regeer terwyl hy lewe. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Dawid wat Ek gekies het, hy het gedoen wat Ek in my wette gesê het.

35. Ek sal die land wegvat in die tyd wanneer Salomo se seun regeer en Ek sal die tien stamme vir jou gee.

36. Ek sal een stam vir sy seun gee sodat hy hulle koning kan bly, en sodat die lamp van die nageslag van my dienaar Dawid kan aanhou brand in Jerusalem, die stad wat Ek vir My gekies het om aan My te behoort.

37. Jerobeam, Ek sal jou neem, en jy sal koning wees oor alles wat jy graag wil hê, jy sal koning wees oor Israel.

38. Ek sal dit vir jou doen as jy gehoorsaam is en alles doen wat Ek vir jou sê, en as jy lewe soos Ek wil hê en die regte dinge doen waarvan Ek hou. As jy doen wat Ek in my wette gesê het, soos my dienaar Dawid gedoen het, dan sal Ek by jou wees en Ek sal vir jou ’n nageslag gee wat konings sal wees, soos Ek vir Dawid gegee het, en Ek sal Israel vir jou gee.

39. Ek sal die nageslag van Dawid verneder omdat hulle ongehoorsaam was, maar Ek sal nie vir altyd kwaad wees vir hulle nie.’ ”

40. Salomo wou vir Jerobeam laat doodmaak. Jerobeam het toe weggegaan en hy het na Egipte gevlug. Hy het na koning Sisak van Egipte gegaan en hy het daar gebly totdat Salomo gesterf het.

41. Al die ander dinge wat Salomo gedoen het, en sy wysheid, is geskryf in die dagboek van Salomo.

42. Salomo was 40 jaar lank koning in Jerusalem oor die hele Israel.

43. Salomo het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy pa Dawid. Salomo se seun Rehabeam het koning geword ná Salomo.

1 Konings 11