Rigters 21:16-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Toe vra die leiers van die gemeente: “Wat kan ons doen om vrouens te kry vir die ander Benjaminiete? Die vrouens uit Benjamin is almal om die lewe gebring.”

17. Hulle het verder gesê: “Daar moet erfgename kom vir dié uit Benjamin wat oorgebly het. Daar mag nie 'n stam uit Israel verdwyn nie.

18. Self mag ons hulle nie met ons dogters laat trou nie, want Israel het 'n eed afgelê en gesê: Vervloek is elkeen wat 'n vrou vir 'n Benjaminiet gee.”

19. Maar toe sê hulle: “Kyk, daar is elke jaar 'n fees in Silo tot eer van die Here.”Silo lê noord van Bet-El en oos van die grootpad van Bet-El af Sigem toe en suid van Lebona.

20. Die leiers het vir die Benjaminiete gesê: “Gaan kruip weg in die wingerde

21. en kyk mooi: wanneer die meisies van Silo uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen moet vir hom 'n vrou gryp onder die meisies van Silo. Dan moet julle na die gebied van Benjamin toe gaan.

22. Wanneer die meisies se pa's of broers 'n klag by ons kom indien, sal ons vir hulle sê: Kyk, ons het nie genoeg vrouens vir hulle in die oorlog gevat nie, en julle is onskuldig, want julle het nie die dogters vir hulle gegee nie.”

23. Die Benjaminiete het dit toe gedoen. Terwyl die meisies gedans het, het hulle vir hulle die regte getal vrouens kom steel. Die Benjaminiete is toe daar weg, terug na hulle grondgebied toe. Hulle het hulle stede herbou en daarin gewoon.

24. Die Israeliete is toe ook daar weg, elkeen na sy stam en sy familie, elkeen na sy grondgebied toe.

25. In daardie tyd was daar nog nie 'n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Rigters 21