Rigters 21:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. By Mispa het die Israeliete 'n eed afgelê: “Nie een van ons sal sy dogter met 'n Benjaminiet laat trou nie.”

2. Die volk het by Bet-El gekom. Daar het hulle tot die aand toe in die teenwoordigheid van God gesit. Hulle het lank daar gesit en hard gehuil.

3. Toe vra hulle: “Waarom het dit in Israel gebeur, Here God van Israel, dat een van die stamme van Israel vandag makeer?”

4. Die volgende môre het die volk vroeg opgestaan en net daar 'n altaar gebou en brandoffers en maaltydoffers geoffer.

5. Toe sê die Israeliete: “Wie van al die stamme van Israel het nie hier na die gemeente, na die Here toe, opgekom nie?”Daar is vroeër 'n eed afgelê dat elkeen wat nie na die Here toe kom in Mispa nie, doodgemaak sal word.

6. Die Israeliete was jammer oor hulle broers uit Benjamin en het gesê: “Vandag is een stam van Israel afgekap.

7. Wat kan ons doen om vrouens te kry vir dié uit Benjamin wat oorgebly het? Ons het 'n eed voor die Here afgelê dat ons nie ons dogters met hulle sal laat trou nie.”

8. Toe vra hulle: “Is daar nog 'n deel van die stamme van Israel wat nie na die Here toe gekom het in Mispa nie?”Dit het toe geblyk dat niemand uit Jabes in Gilead na die vergadering toe gekom het nie.

9. Die volk is getel en daar was nie een mens uit Jabes in Gilead nie.

10. Toe stuur die gemeente twaalf duisend dapper soldate met die opdrag: “Gaan bring die inwoners van Jabes in Gilead om die lewe, ook die vrouens en die kinders.

11. Dit is wat julle moet doen: julle moet elke man en ook elke vrou wat al geslagsgemeenskap gehad het, doodmaak.”

12. Onder die inwoners van Jabes in Gilead is daar vier honderd meisies gevind wat nog maagde was en nie geslagsgemeenskap gehad en by 'n man geslaap het nie. Die soldate het hulle na die kamp toe in Silo in Kanaän gebring.

13. Toe stuur die hele gemeente 'n boodskap na die Benjaminiete toe by die Rimmonrots om met hulle vrede te maak.

Rigters 21