17. Die ou man het die reisiger op die stadsplein raakgesien en vir hom gesê: “Waarheen is jy op pad? Waarvandaan kom jy?”
18. Toe sê hy vir die ou man: “Ons is op pad van Betlehem in Juda af na die uithoeke van die Efraimsberge toe. Ek is van daar af, maar ek het na Betlehem in Juda gegaan, na die huis van die Here toe. Ek is op pad, maar niemand het my na sy huis toe genooi nie.
19. Ek het genoeg voer vir die donkies, en kos en wyn vir my en die vrou en die slaaf. Ons kom niks kort nie.”
20. Toe sê die ou man vir hom: “Dis alles reg, maar wat jy sal gebruik, sal ek voorsien. Jy mag egter nie op die plein oornag nie.”
21. Die ou man het hom toe in sy huis gevat en vir die donkies voer gegee. Die mense het hulle voete gewas, en toe het hulle geëet en gedrink.
22. Net toe hulle begin vrolik raak, omsingel 'n klomp straatboewe van die stad die huis en hulle slaan op die deur. Hulle sê toe vir die ou man aan wie die huis behoort: “Bring uit die man wat in jou huis gekom het. Ons wil geslagsgemeenskap met hom hê.”
23. Die man aan wie die huis behoort, is na hulle toe uit en hy sê vir hulle: “Nee, vriende, moenie hierdie man kwaad aandoen nadat hy in my huis ingekom het nie. Julle moet hom nie so 'n lae ding aandoen nie.
24. Hier is my dogter, sy is nog 'n maagd, en die man se byvrou. Ek sal hulle uitbring, verkrag hulle. Doen met hulle wat julle wil, maar moenie hierdie lae ding aan die man doen nie.”
25. Maar die mans wou nie na hom luister nie. Toe gryp die Leviet sy byvrou en stoot haar buitentoe na hulle toe. Hulle het met haar geslagsgemeenskap gehad en haar die hele nag deur tot die môre toe verrinneweer. Toe die rooidag breek, het hulle haar gelos.
26. Teen die môre se kant het sy by die huis gekom en voor die deur van die huis waarin haar man was, neergeval en bly lê tot sonop.
27. Toe haar man die môre opstaan en die huis se deur oopmaak om verder te reis, lê die vrou, sy byvrou, in die deur met haar hande op die drumpel.
28. Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan vertrek,” maar sy het nie geroer nie. Hy tel haar toe op 'n donkie en maak klaar en vertrek na sy plek toe.
29. Toe hy by die huis kom, vat hy 'n mes en die lyk van sy byvrou en sny haar op in twaalf stukke, lid vir lid, en stuur dit deur die hele gebied van Israel.
30. Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het nog nooit gebeur vandat die Israeliete uit Egipte weggetrek het nie. Van toe af tot nou toe is so iets nog nie gesien nie. Ons moet dit ter harte neem. Ons moet 'n plan maak. Ons moet praat!”