1. Op 'n keer is Simson na Timna toe en daar het hy 'n vrou gesien. Sy was 'n Filistynse meisie.
2. Hy het teruggegaan en vir sy ouers vertel: “Ek het 'n vrou in Timna gesien, 'n Filistynse meisie. Gaan kry haar vir my as vrou.”
3. Maar sy ouers vra vir hom: “Is daar nie onder jou familie of onder al jou volksgenote 'n vrou nie dat jy na die heidene, die Filistyne, toe moet gaan om te trou?”Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my, want ek hou van haar.”
4. Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou 'n geleentheid skep om die Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers.
5. Simson en sy ouers is toe na Timna toe. By die wingerde van Timna het 'n jong leeu brullend op Simson afgestorm.
6. Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur asof dit 'n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie.
7. Hy het toe met die Filistynse vrou gaan praat, en hy het van haar gehou.
8. Toe hy 'n ruk later terug is Timna toe om met haar te gaan trou, het hy afgedraai om na die geraamte van die leeu te gaan kyk. Daar was 'n swerm bye met heuning in die karkas.
9. Hy het heuning in sy hand gevat en daarvan geloop en eet. Toe hy by sy ouers kom, het hy vir hulle ook gegee, en hulle het geëet, maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die karkas van 'n leeu gekry het nie.
10. Toe sy pa-hulle by die vrou aankom, het Simson daar 'n feesmaal gehou: dit was 'n gewoonte onder die jongmanne.
11. Toe die Filistyne hom sien, het hulle dertig vriende by hom laat bly.
12. Hy het vir hulle gesê: “Laat ek julle 'n raaisel vra. As julle my die raaisel se antwoord binne die sewe feesdae kan gee, sal ek vir julle dertig linnehemde en dertig stelle klere gee,