Numeri 4:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2-3. “Tel die Leviete tussen dertig en vyftig jaar, almal wat van Kehat afstam. Doen dit volgens afstamming van familie. Dit moet almal insluit wat vir diens geskik is, wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig.

4. Die ampsplig van die Kehatgroep in die tent van ontmoeting het te doen met die besondere gewyde voorwerpe.

5. “Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom.“Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak.

6. Hulle moet 'n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met 'n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek.

7. “'n Blou doek moet ook oor die offerbroodtafel gegooi word, en daarop moet hulle die skottels, bakke, komme en drankofferkanne sit; ook die offerbrood moet daarop gesit word. Dit moet altyd daar wees.

8. Hulle moet 'n bloedrooi doek oor die offerbroodtafel gooi en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek.

34-45. Moses, Aäron en die volksleiers het die drie Levitiese families Kehat, Gerson en Merari getel. Hulle het dit gedoen volgens afstamming en familie soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het al die manlike persone van tussen dertig en vyftig jaar opgeskryf, almal wat geskik was vir diens en wat die werk in die tent van ontmoeting kon verrig. Die getalle was soos volg: Kehat twee duisend sewe honderd en vyftig, Gerson twee duisend ses honderd en dertig, Merari drie duisend twee honderd.

46-48. Die groottotaal Leviete van tussen dertig en vyftig jaar, almal wat geskik was om te dien in die tent van ontmoeting en om die drawerk te doen, was ag duisend vyf honderd en tagtig. Moses, Aäron en die leiers van Israel het hulle volgens afkoms en familie getel.

Numeri 4