11. moet julle stede aanwys wat asielstede vir julle kan wees waarheen 'n persoon kan vlug wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het.
12. Dit moet vir julle plekke wees waar julle veilig is teen die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene, sodat iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, nie hoef te sterf voordat hy sy saak voor die bevoegde vergadering gelê het nie.
13. Die ses stede wat julle gee, sal vir julle asielstede wees.
14. Julle moet drie asielstede oos van die Jordaan en drie in Kanaän beskikbaar stel.
15. Die ses stede moet plekke van asiel wees vir Israeliete sowel as vir vreemdelinge en ander uitlanders tussen julle, sodat elkeen wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug.
16. “As iemand 'n ander met 'n stuk yster slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.
17. As iemand in sy hand 'n klip het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander daarmee dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.
18. As iemand in sy hand 'n stuk hout het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.
19. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.