Numeri 32:17-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. maar ons sal dadelik ons wapens vat en aan die voorpunt van die Israeliete trek totdat ons hulle by hulle bestemming gebring het. Intussen kan ons gesinne in die versterkte stede woon en so sal hulle veilig wees teen die inwoners van die land.

18. Ons sal nie na ons huise toe terugkom voordat elke Israeliet sy besitting ontvang het nie.

19. Ons wil nie saam met hulle aan die westekant van die Jordaan ons besitting hê nie, ons wil ons besitting hier oos van die Jordaan hê.”

20. Toe het Moses vir hulle gesê: “Doen dit dan. Vat julle wapens en trek op voor die ark van die Here uit om te gaan veg.

21. Al julle gewapende manne moet deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek, totdat Hy sy vyande verslaan het.

22. Eers wanneer die Here die land onderwerp het, mag julle terugkom en sal julle vrygestel wees van julle verpligting teenoor die Here en teenoor Israel. Dan kan julle hierdie gebied uit die hand van die Here ontvang as julle besitting.

23. Maar as julle dit nie doen nie, sondig julle teen die Here en moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal.

24. Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het.”

25. Die mense van Gad en Ruben het toe vir Moses gesê: “Ons sal doen soos u gesê het.

26. Ons vrouens en kinders, ons kleinvee en ons beeste sal hier in die stede van Gilead bly,

27. maar al ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg soos u gesê het.”

28. Moses het toe vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel

29. gesê: “As die mense van Gad en Ruben, al hulle gewapende manne, saam met julle deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg, en die land aan julle onderwerp is, moet julle die Gileadgebied aan hulle as 'n besitting gee.

30. Maar as hulle gewapende manne nie saam met julle gaan nie, moet hulle tussen julle in Kanaän 'n besitting kry.”

31. Die mense van Gad en Ruben het toe geantwoord: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.

Numeri 32