Numeri 32:12-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Net Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua seun van Nun sal die land sien, want hulle het die Here getrou gevolg.

13. Die Here was baie kwaad vir Israel en het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag omgekom het wat in sy oë verkeerd gedoen het.

14. En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel.

15. As julle nou aan Hom ontrou is, sal Hy die hele volk nog langer in die woestyn laat bly en hulle tot niet laat gaan.”

16. Hulle het toe vir Moses gesê: “Ons sal hier krale bou vir ons kleinvee en stede vir ons gesinne,

17. maar ons sal dadelik ons wapens vat en aan die voorpunt van die Israeliete trek totdat ons hulle by hulle bestemming gebring het. Intussen kan ons gesinne in die versterkte stede woon en so sal hulle veilig wees teen die inwoners van die land.

18. Ons sal nie na ons huise toe terugkom voordat elke Israeliet sy besitting ontvang het nie.

19. Ons wil nie saam met hulle aan die westekant van die Jordaan ons besitting hê nie, ons wil ons besitting hier oos van die Jordaan hê.”

20. Toe het Moses vir hulle gesê: “Doen dit dan. Vat julle wapens en trek op voor die ark van die Here uit om te gaan veg.

21. Al julle gewapende manne moet deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek, totdat Hy sy vyande verslaan het.

22. Eers wanneer die Here die land onderwerp het, mag julle terugkom en sal julle vrygestel wees van julle verpligting teenoor die Here en teenoor Israel. Dan kan julle hierdie gebied uit die hand van die Here ontvang as julle besitting.

23. Maar as julle dit nie doen nie, sondig julle teen die Here en moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal.

24. Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het.”

25. Die mense van Gad en Ruben het toe vir Moses gesê: “Ons sal doen soos u gesê het.

Numeri 32