8. Verder het Moses vir Korag-hulle gesê: “Luister, Leviete!
9. Is julle nie daarmee tevrede dat die God van Israel júlle uit die gemeente van Israel afgesonder het om in die heiligdom diens te doen en om die dienswerk in die tabernakel van die Here te verrig in belang van die gemeente vir wie julle bedien nie?
10. Hy het jóú, Korag, en al jou Levitiese ampsgenote saam met jou laat diens doen in die heiligdom, maar nou wil julle ook nog die priesterskap inpalm!
11. Dat julle julle teen Aäron verset, is niks nie, maar jy en jou hele bende het 'n komplot teen die Here gesmee.”
12. Daarna het Moses vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie.
13. Is dit nie genoeg dat jy ons laat trek het uit 'n land wat oorloop van melk en heuning om ons in die woestyn te laat omkom nie? En nou wil jy ook nog gedurig oor ons baasspeel!
14. Bowendien het jy ons nie gebring na 'n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie!”
15. Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet hulle offergawe nie aanneem nie! Ek het nie 'n enkele donkie van hulle gevat nie en nie een van hulle benadeel nie.”
16. Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende moet môre na die altaar toe kom, jy en hulle en ook Aäron.
17. Elkeen moet wierook in 'n vuurpan sit en dit na die altaar toe bring, elkeen van die twee honderd en vyftig man met sy eie vuurpan, en ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.”
18. Almal het toe hulle vuurpanne gevat, vuur daarin gesit en wierook daarop geplaas, en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron.
19. Net toe Korag die hele gemeente teenoor Moses-hulle by die ingang van die tent van ontmoeting laat saamkom, word die magtige teenwoordigheid van die Here vir die hele gemeente sigbaar.
20. Die Here sê toe vir Moses en Aäron:
21. “Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.”
22. Maar Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid: “O God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?”
23. Toe sê die Here vir Moses:
24. “Sê vir die gemeente: Gee pad van Korag, Datan en Abiram se tente af!”