8. Ek het ook 'n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.”My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.
9. Ek het by die goewerneurs in Wes-Eufraat gekom en die briewe van die koning aan hulle oorhandig. Die koning het offisiere en ruiters met my saamgestuur.
10. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was dit vir hulle slegte nuus. Hulle het dit as 'n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen.
11. Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was,
12. is ek die nag stilletjies uit met 'n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie.
13. Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was.
14. Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie,
15. en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe.
16. Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie.
17. Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.”