42. en ook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die kore het gesing onder leiding van Jisragja.
43. Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor.
44. Daardie dag is daar ook manne aangestel oor die voorraadkamers vir die offergawes, die eerstelinge en die tiendes, sodat daarin die deel opgeberg kon word wat volgens wet die priesters en die Leviete uit die boerderygebiede van die stede toekom. Die priesters en die Leviete wat diens gedoen het, het voordeel getrek uit die blydskap van Juda.